GEORGE NUUS - 'n Voortdurende vlieëplaag en geweldige stank wat om hul huise hang - dít is waarmee sowat 15 huishoudings van Goedehoop plaas in Diepkloof daagliks moet saamleef.
Kommersiële organiese komposproduksie tussen die werkershuise op die plaas is die bron van die stank en al die vlieë.
Senior kommunikasiebeampte van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Marillia Veldkornet, het bevestig dat twee inspeksies reeds vanjaar by die plaas gedoen is.
Volgens Veldkornet het hul tweede inspeksie op 20 Maart bevestig dat die situasie intussen vererger het. Hul eerste besoek aan die terrein was op 3 Februarie nadat 'n klagte by die munisipale afdeling vir gesondheid- en omgewingsdienste aangemeld is.
Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se nuutste bevindinge is soos volg:
• 'n Beduidende toename in die hoeveelheid vlieë;
• sterk, onaangename reuke vanuit die komposhope;
• ondoeltreffende plaagbeheermaatreëls wat tot verdere besmetting lei;
• oormatige hoë komposhope wat anaërobiese toestande skep en vliegverspreiding bevorder;
• 'n gebrek aan pogings om kompos te draai of te belug om reuke en plae te beheer.
Grondeienaar
George Herald het daarin geslaag om die grondeienaar, Lotter Bekker, op te spoor. Volgens Bekker is die oproep van George Herald die eerste wat hy van die klagte hoor. Hy was besig om te reis en nie geredelik beskikbaar vir 'n gesprek nie.
Volgens inligting is Bekker nie self doenig met die komposhope nie en verhuur hy glo die grond aan 'n ander persoon. Bekker het nie gereageer op 'n versoek vir sy huurder se telefoonnommer nie.
Die geskatte afstand tussen die komposhope en die eerste werkershuisie is sowat 50 m.
Good hou dop
Plaaslike Good-raadslid, Rosa Louw, het op 21 Februarie die kwessie aangeroer met 'n verklaring wat kommer oor die moontlike gesondheidsgevare uitlig. Luidens Louw se verklaring is die produksie en meng van die organiese kunsmis wel deur die Wes-Kaapse departement van omgewingsake goedgekeur, maar is dit duidelik dat ander inwoners erg daardeur geaffekteer word.
"Die gesondheidspraktisyn [van Tuinroete-distriksmunisipaliteit] het bevestig dat die nat kompos met niks meer as saagsels bedek is nie," lees haar skrywe.
"Die eienaar van die perseel is opdrag gegee om stappe te doen om die reuk en teenwoordigheid van vlieë te versag. Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het hom daartoe verbind om die fasiliteit weer te besoek.
"Volgens Veldkornet is hul nuutste bevindinge aan die Wes-Kaapse departement van omgewingsake, sowel as hul afdeling vir afvalbestuur lisensiëring, gerapporteer.
"In reaksie hierop is 'n formele kennisgewing aan die grondeienaar uitgereik om die volgende regstellende aksies te implementeer: reukbeheer, plaagbeheermaatreëls om vliegbesmettings te versag en die vermindering van die komposhoophoogtes om ontbinding te verbeter en reukproduksie te verminder."
Veldkornet het gesê deurlopende monitering sal uitgevoer word om seker te maak hierdie regstellende maatreëls word nagekom.
George Lourens, wie se dogter en kleinkinders op die plaas woon. Lourens werk self nie op die plaas nie, maar die saak is onder sy aandag gebring.