Video
GEORGE NUUS - ’n Reeks veiligheidsimbizo’s aan die Tuinroete, gelei deur die Wes-Kaapse regering, die polisie en die George-munisipaliteit, het onstuimig begin toe die eerste vergadering op Vrydag 20 Februarie by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal voortydig beëindig is.
Die voorsitter, Kurt Nefdt, het die sitting afgesluit nadat hy aangedui het dat gemeenskapslede nie amptenare toegelaat het om op kwessies te reageer nie.
Die vergadering het met gebruiklike verwelkomings begin. Vuyani Mbaqa, adjunkdirekteur van die departement van polisie-toesig en gemeenskapsveiligheid, het verduidelik dat die doel van die imbizo is om gemeenskappe te mobiliseer om veiligheid saam aan te spreek. Hy het beklemtoon dat misdaadbekamping nie slegs die verantwoordelikheid van die polisie of regering is nie, maar ook van sekuriteitsorganisasies, buurtwagte en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Die fokus is om gemeenskapsgebaseerde veiligheidsplanne te ontwikkel, probleme te identifiseer en praktiese oplossings te prioritiseer.
Waarnemende stasiebevelvoerder, kapt. Malcolm Richards, het gesê Pacaltsdorp het aansienlik gegroei en beslaan 31 km² met sewe informele nedersettings, wat volgens hom groot druk op polisiëringshulpbronne plaas. Hy het aangekondig dat die Pacaltsdorp GPF ná ’n ondersoek ontbind is.
Lede van die Hoogekraal-buurtwag is van links: Blanche Benjamin, Raylene Simeon, Mario Alaart, Willie-John van Niekerk, Rozetté Katzen en Eugene Britz.
Ontbinding van GPF
Hierdie aankondiging het sterk teenkanting ontlok. Herman Philander, voormalige projekkoördineerder van die GPF, het gesê lede is nie geraadpleeg nie en dat hy valslik van rassisme, seksisme en verduistering beskuldig is. Gemeenskapslede het ook kommer uitgespreek oor die gereelde wisseling van stasiebevelvoerders, wat volgens hulle kontinuïteit en vertroue ondermyn.
Die minister se aanvanklike afwesigheid het verdere frustrasie veroorsaak, met inwoners wat aangevoer het dat vorige gesprekke met amptenare geen tasbare resultate opgelewer het nie. Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van polisie-toesig en gemeenskapsveiligheid, het kort daarna opgedaag en vrae direk aangehoor.
Onregmatig gearresteer
Charlie Daman, voormalige GPF-voorsitter, het beweer hy is sonder gronde gearresteer en langer as tien dae aangehou. Hy het gesê hy is medikasie en besoekers geweier en het geen verduideliking ontvang nie. Volgens hom is Pacaltsdorp wat polisiëring betref, onderbedien. Hy het ook beweer dat die GPF- distriksverteenwoordiger, Patrick Blaauw, hom nie besoek het nie en dat belanghebbendes nie oor die ontbinding ingelig is nie. Daman het gesê die GPF het die minister se teenwoordigheid versoek, maar slegs informeel van haar besoek verneem.
Ernest Damons het sy beweerde onregmatige arrestasie beskryf en gesê die lasbrief teen hom het verval. Die aanklag van crimen injuria is later in die hof van die hand gewys.
Ernest Damons het ’n emosionele versoek aan die minister gerig na ’n beweerde onregmatige arrestasie. Hy het sy vrou, Angolene Damons, en sy twee kinders, Ernolene Fourie (9) en Rafial Damons (7), genooi om by hom te kom staan en gesê dat sy familie deur die arrestasie getraumatiseer is. Foto: Marguerite van Ginkel
Terugvoer
Monica Jacobs het emosioneel vertel van haar seun se moord verlede jaar en gesê sy het geen terugvoer van die polisie ontvang nie en het byna ineengestort tydens haar voorlegging.
’n Moeder, Monica Jacobs, wat steeds rou oor haar seun wat verlede jaar vermoor is en sy het nog geen terugvoer van die polisie ontvang nie. Foto: Marguerite van Ginkel
Die minister het name en kontakbesonderhede versoek van diegene wat klagtes geopper het en belowe om die sake persoonlik op te volg. Sy het verduidelik dat hulpbronne soos personeel, voertuie en infrastruktuur op nasionale vlak bepaal word en dat nóg sy nóg die provinsiale regering addisionele hulpbronne kan aanstel. Verdere vergaderings op provinsiale en nasionale vlak is vir 6 en 11 Maart geskeduleer.
In ’n daaropvolgende mediaverklaring in reaksie op ’n memorandum wat ná die imbizo deur Herman Philander namens die Pacaltsdorp mans- en vrouegroep ingedien is, het Kurt Nefdt, woordvoerder van die minister, gesê die imbizo was doelbewus gestruktureer as ’n formele en gebalanseerde platform vir die Suid-Afrikaanse polisiediens om omvattende terugvoer te gee oor vorige memorandums van griewe. Volgens hom het ontwrigtings verhoed dat die polisie hul voorbereide, punt-vir-punt terugvoer kon lewer.
Die departement het beklemtoon dat konstruktiewe dialoog slegs binne ’n raamwerk van wedersydse respek, orde en samewerking kan plaasvind.
Die uitnodiging is weer gerig dat alle klagtes en voorstelle skriftelik aan die minister se kantoor gerig word om formele prosesse en aanspreeklikheid te verseker.
WATCH: Chaos erupted at the Ministerial Imbizo held at the Pacaltsdorp Community Hall tonight.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’