GEORGE NUUS - Die soektog na ‘n vermiste visserman wat deur branders van die rotse by Gwaiingriviermond afgeslaan is, is vanoggend weer deur die Pacaltsdorp-polisie en polisieduikers hervat.
Volgens sers. Chris Spies, die polisiewoordvoerder het Vernon Zeelie (20), gister 23 Mei, saam met ‘n vriend gaan visvang by een van die hengelplekke by Gwaiing.
“Volgens inligting het Zeelie en 'n vriend by Gwaiing gaan visvang toe hy glo deur ’n brander van die rotse afgespoel is en in die see verdwyn het. Sy vriend het onmiddellik die owerhede in kennis gestel, waarna ’n soekspan saamgestel is en die soektog begin het,” sê Spies.
Die publiek word versoek om enige inligting wat die polisie met die soektog kan help, na vore te bring.
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, adjudant-offisier W Van Schalkwyk, van die Pacaltsdorp-speurdiens by 082 522 3120 kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’