GEORGE NUUS - Goue oues van George en omgewing is gerat vir die Golden Games-sportspele wat Donderdag 24 Oktober in Oudtshoorn plaasvind.
Die sowat 60 atlete gaan goed opwarm, rek-en-strek en hul stembande oefen op die paviljoen alvorens hulle hul tekkies op die nuwe tartanbaan van die De Jagers-atletiekveld gaan toets.
Spanne van regoor die streek gaan kragte meet, met bejaardes van Hessequa, Kannaland, Mosselbaai, Knysna, Bitou en Oudsthoorn wat die saamtrek gaan bywoon.
"Ek het nie geweet mense oor 60-jaar kan nog hardloop nie," het Henry McCombi, bestuurder van die Rosemoor-dienssentrum vir bejaardes, in sy toespraak gesê.
Hierdie goue oues gaan aan baanitems deelneem van 100m tot 800m, en 'n balspelletjie wat hulle "Pass the Ball" noem.
Volgens Blanche Benjamin, sekretaris van die Tuinroete forum vir ouer persone, is hierdie item die mees gewildste.
Patricia Hendrick (links, 83) is die oudste deelnemer van die George-span. Saam met haar is Berenice Carelse (62) en Ursula Arendorf (73). Foto: Michelle Pienaar
Benjamin het met die groep atlete gepraat oor goeie sportmansgees. "Dit het jou dekades geneem om aan jou karakter te werk. Dit is nou jou tyd om te skitter," het Benjamin gesê tydens 'n vergadering verlede Vrydag 18 Oktober, by die Rosemoor-dienssentrum. Sy het deelnemers herinner om seker te maak hulle bloeddruk en suikervlakke is in orde voor die groot dag.
Die groep van George spog nou met splinternuwe t-hemde wat deur Avbob geborg word.
Deelnemers van Haarlem, Uniondale en George word per busvervoer na die geleentheid in Oudtshoorn geneem. Hierdie word moontlik gemaak deur George-munisipaliteit, wat die vervoer en eetgoed borg. Ander B-munisipaliteite help hul spanne op dieselfde manier.
Die geleentheid word deur die provinsiale departemente van sport en kultuur, sosiale ontwikkeling, en die Wes-Kaapse forum vir ouer persone gereël.
Charlene Abrahams (65), Sarah Martins (62), Liz Roelfse (68) en John Marks (72) is onder die deelnemers. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’