GEORGE NUUS - Danksy 'n opheffingsprogram van 'n Mev. SA semifinalis van George, Shamel Spandiel, het 'n groep vroue van Borcherds 'n ervaring beleef wat hulle vir altyd sal bybly.
Dié groep van 13 vroue het leer brei, 'n kunsklas ontvang en meer geleer oor selfverdediging en noodhulp. Spandiel, 'n paramedikus van beroep, het self die noodhulpklas hanteer.
Bowenal het die groep, met ouderdomme wat hemelsbreed verskil, mekaar beter leer ken en nuwe vriendskappe ontdek. "Ek het 'n nuwe familie ontdek en soveel liefde ontvang," het Philiswa Mjelo gesê.
Jami-Lee Jacobs beskryf die geleentheid as 'n baie groot voorreg. "Ek kon leer wat dit is om 'n vrou te wees. Ek het meer geleer as net arts en crafts. Daar was soveel liefde, dit was amazing," het sy gesê.
Zandile Nxosha het vir die eerste keer in haar lewe gebrei en geskilder. "Ek het nuwe susters ontdek. Dit was soveel pret en vir 'n goeie doel," het sy gesê.
Hierdie opheffingsprojek vorm deel van Spandiel se gemeenskapswerk wat van 'n Mev. SA semifinalis verwag word. Spandiel het nog 'n projek in die pyplyn - ook ten bate van die gemeenskap - wat sy later bekend sal maak.
Vroue wat gehelp het met aanbiedinge tydens die uitreik-program sluit in Maranda Avontuur en Sally Camfer (breiwerk), Pamela Lesibanie (kuns) en Kaptein Judy Hardnick van George-polisie (selfverdediging en zumba).
Die kies van die finaliste vir die gesogte Mev. SA kompetisie vind plaas in Julie, en die kroningsgeleentheid in November, in Gauteng.
Agter, van links is Zandile Nxosha, Chloe Muller, Lucell Rondganger, Jami-Lee Jacobs, Rucaida Willemse en Gayline Magani. Voor: Dorah Esau, Pamela Lesibanie, Shamel Spandiel, Elsie Janet Booysen en Philippa Mjelo. Afwesig: Ashley-Anne Roelofse, Veronique Fortuin en Shakeena Booysen. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’