GEORGE NUUS - ’n Vyfjarige seuntjie, Christopher Junior Stander, is ernstig beseer nadat hy Vrydag 1 Augustus in sy gesig deur ’n perd in Crossandrastraat, Pacaltsdorp, geskop is.
Volgens sy ma Tonie, het Christopher ernstige gesigsbeserings opgedoen, insluitend frakture aan albei oogkaste en sy neusbeen.
“Die vog van sy brein lek nou deur sy neus,” sê sy ma. “Hy gaan permanente skade hê.”
Hy word tans in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad behandel. Dokters is steeds besig met toetse om die volle omvang van sy beserings vas te stel en om te bepaal of en wanneer ’n operasie nodig sal wees.
Sy het haar kommer uitgespreek oor perde wat sonder toesig in die woongebied rondloop. “As dit van my af hang, sou daar lankal iets gedoen gewees het. My kind moet nou vir die res van sy lewe met die gevolge saamleef.”
Verskeie inwoners het reeds hul kommer oor die veiligheid in die area uitgespreek, veral met perde wat onbeheerbaar in die strate rondloop.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’