GEORGE NUUS - Diensorganisasies van George het weer 'n baie suksesvolle Santa Flight-byeenkoms vir ongeveer 100 kinders van ses skole aangebied. Dit was 'n dag propvol pret.
Die dag word gereël deur die George Tafelronde, Rotariërklub, Tuinroete Damessirkel, Eden Lions, George Lions, Die Vryburgers en die Outeniqua Moth Shellhole.
Skole wat dit bygewoon het is Carpe Diem, Parkdene en Pacaltsdorp Primêr, Môreson Kinderhuis en Jeugsentrum, Conville Primêr en St Paul's Primêr.
Die dag het begin met die kinders wat in vinnige voertuie en motorfietse van BMW Motorrad George gery het. Daarna kon die kinders lekker speel op die springkastele, verfbal skiet en het geskenkpakkies en pannekoeke ontvang.
Stefan du Plessis van die George Tafelronde help vir Henrico Bruiners (Conville Primêr) om die verfbalgeweer te skiet. Foto: Jacques du Toit
Tussendeur is die kinders op opwindende helikopterritte geneem en later het 'n kulkunstenaar die kinders met sy toertjies vermaak voor Kersvader opgedaag het en geskenkies aan elke kind uitgedeel het.
"Die gesamentlike doel is om die kinders te motiveer om iets met hul lewens te doen. Hulle te wys wat samewerking kan doen, asook te leer dat goeie werk beloon word," se Jaco Hanekom, voorsitter van George se diensorganisasies. Die passie en omgee vir die kinders is wat almal dryf, ons beloning is die gesigsuitdrukkings, glimlaggies en oorstelptheid wat die kinders so spontaan vir ons wys," sê Hanekom.
Hy noem ook dat alhoewel die diensorganisasies die dag reël sou dit nie moontlik wees sonder hulp van buite nie.
Groot opgewondenheid het geheers toe Kersvader opdaag en elke kind op sy of haar naam roep om ‘n geskenk te kom haal. Foto: Jacques du Toit
Vanjaar is die 12de keer wat Santa Flight gehou is en Hanekom sê hulle gaan vir seker probeer om dit volgende jaar weer aan te bied.
"Soos met elke jaar is die grootste struikelblok kostes, maar die diensklubs van George maak dit nog altyd werk. Die Santa Flight is hier om te bly, solank as wat ons ondersteuning van buite kry, sal ons aanhou!" beklemtoon hy.
BMW Motorrad George het motorfietse beskikbaar gemaak om die kinders vir 'n draai op 'n motorfiets te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’