GEORGE NUUS - Erkenning is Maandag 29 November aan twee sakeleiers, Susan Venter van SM Architectural and Town Planning Services, Mosselbaai, en Lambert Maart van LHM Couriers, George gegee.
Beide was finaliste in 'n kompetisie van die AHi (vroeër bekend as die Afrikaanse Handelsinstituut) Wes-Kaap in die afdeling vir klein besigheid van die jaar.
In die kompetisie is onder meer meegeding vir sakekamer van die jaar, klein besigheid van die jaar, beginner klein besigheid van die jaar, kleinboer van die jaar, die mees innoverende gasvryheidsbesigheid van die jaar, asook 'n spesiale direksie toekenning.
Bernie Schaap, uitvoerende hoof van die George-sakekamer, het 'n toekenning namens die instansie ontvang as 'n finalis in die sakekamer van die jaar.
Die George-sakekamer was onder die topdrie in dié afdeling en Stilbaai was die wenner.
Dr. Willie Cilliers, die AHi Wes-Kaap se uitvoerende direkteur, het Dinsdag aan George Herald gesê dit is uiters moeilik om 'n klein sakeonderneming te bedryf.
"Jy moet innoverend wees en met nuwe denke kom. Covid-19 het nuwe uitdagings gestel. Die nuwe Omikron-variant maak die druk groter. Die skerp styging in die brandstofprys plaas ook verdere druk op sakeondernemings.
"Klein sakeondernemings is die hartklop van die ekonomie. Daar is meer sulke ondernemings nodig."
Schaap het gesê: "Die erkenning is beslis 'n aanmoediging vir ons harde werk. Ons hoop om dit volgende jaar te wen. Sakekamers is nou meer as ooit belangrik. As dit moeilik raak in sakeondernemings, is ons daar om leiding te gee."
Dr. Willie Cilliers, die AHi Wes-Kaap se uitvoerende direkteur, Susan Venter van SM Architectural and Town Planning Services, Bernie Schaap, bestuurder van die George-sakekamer en Lambert Maart van LHM Couriers.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'