GEORGE NUUS - Hoërskool George het verlede week die geleentheid gehad om tydens 'n besoek van lede van die nasionale parlement oor hul toekomsdrome te gesels. 'n Afvaardiging van die staande komitee vir sport het dié fokusskool vir sport verlede Woensdag besoek as deel van hul landswye uitreik na skole. Die komitee speel 'n oorsig- en moniteringsrol.
Die skoolhoof, Morton van Rooyen, is tevrede met die gesprekke wat gevoer is. "Hulle kon geen beloftes maak nie, maar hulle was positief," het Van Rooyen gesê. Die skool ontvang tans finansiële hulp van die departement van kuns, kultuur en sport. Dit stel hulle in staat om vier afrigters te bekostig. Atletiek, rugby, krieket en basketbal is die sportsoorte wat ondersteuning geniet.
Volgens Van Rooyen is die skool se veeldoelige sportterrein vir tennis, netbal en basketbal bykans voltooi. Basketbal is nog in 'n ontwikkelingstadium, maar die ander drie sportsoorte is baie gewild. "Die skool geniet geweldige voordeel in sportgebied uit hierdie departementele ondersteuning," het hy gesê. "Ons wil graag volgende die skool se eie rugby- en krietetvelde verbeter.
As ons regeringshulp ontvang sal dit nie net vir die skool wees nie, maar vir die gemeenskap. Daar is vyf ander skole in die omgewing wat sal baat vind."
'n Lid van die nasionale parlement, Bev Abrahams (ANC, Gauteng), het die sukses van die leerders toegeskryf aan die rol van die eksterne afrigters. "Dit maak 'n groot verskil aan die leerders se sportontwikkeling," het Abrahams gesê.
Sy het benadruk dat alhoewel die komitee skole bystaan en verwys na die onderskeie departemente vir hulp, hulle slegs 'n moniterings- en oorsigrol speel. "Ons is hier om toe te sien dat die departementele fondse reg aangewend word en om die bevordering van sportontwikkeling te monitor. Ons is baie tevrede met wat ons hier sien," het sy gesê.
Van links is Tsepo Mhlongo (DA-hoofsweep, Gauteng), Morton van Rooyen (skoolhoof: Hoërskool George), Lulama Ntshayisa (vise-president AIC), Samuel Mmusi (ANC, Noord-Wes), Bev Abrahams (ANC, Gauteng), Strike Ralegoma (ANC-hoofsweep, Gauteng), Claude Meyer (hoof van die provinsiale departement van kultuur, kuns en sport), Marius Jansen (voorsitter van die beheerraad: Hoërskool George), Koos Eksteen, (WKOD-kringbestuurder: Eden en Sentrale Karoo-distrik) en Dave van der Walt (Eden-sportraad).
Die komitee het 'n besoek aan Imizamo Yethu Sekondêr in Thembalethu gekanselleer nadat nuus ontvang is dat een van hul kollegas in 'n motorongeluk in Paarl, op pad na die Suid-Kaap, gesterf het.
Die oorledene is ANC LP Timothy Khoza van Mpumalanga. Hy was 'n lid van die nasionale staande komitee vir basiese opvoeding.
Abrahams het verlede week gesê sy en van die ander komiteelede is getraumatiseerd nadat hulle van die ongeluk ingelig is. Die voorsitter van die staande komitee vir sport Beauty Dlulane was weens trauma nie in staat om die vergadering by Hoërskool George te lei nie.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'