RUBRIEK - Daar is daai klank al weer. 'n Groot swaar metaalsleutel wat 'n paar keer draai in 'n groot slot. Dis 'n swaar, soliede klank en iets wat ek voor vannag nog net in rolprente en op televisie gehoor het.
Dis vir my vreemd maar vannag vertel dit van die realiteit waar ek nou is: In 'n tronksel in 'n vreemde land. Ek het geen idee hoe laat dit is nie, want my horlosie is van my weggeneem.
Vroeër die dag is ek en 'n kollega aangekeer. Ons was in Gaborone, Botswana om verslag te doen vir die destydse, Die Vaderland oor 'n aanval van die Suid-Afrikaanse weermag op ANC-teikens.
Wat aanvanklik net 'n paar berigte en 'n paar foto's sou wees, het 'n nagmerrie geword. Met ons aankoms die middag by die toneel aan die buitewyke van Gaborone is ons nie toegelaat om te werk en foto's te neem nie.
Ons moes eers akkreditasie as joernaliste kry. Ons het vertrek na die land se owerhede in die stadskern van Gaborone. Op pad daarheen het die "special branch" ons van die pad gedwing en in hegtenis geneem.
Onder swaar militêre begeleiding is ons na die polisiehoofkwartier geneem en kortliks ondervra.
Toe is ons tronk toe en afsonderlik aangehou. Dit was haglike omstandighede. Ek het 'n vuil ou kombers gekry om op te slaap. Saam met my was 'n man wat vir een of ander beweerde misdaad aangehou is.
My vrese dat hy my sou leed aandoen was verniet. Hy het net op 'n stadium gesê: "Food here very bad." Kos was mielies in 'n metaalemmer wat jy met jou hande mos uitskep. Die toilet was 'n gat in die grond. Die sel se lig het die hele nag gebrand.
Die volgende dag het die ondervraging in alle erns begin. Sommer daar in die sel. Die ondervraers het my teen 'n muur laat staan. Een het dan 'n klap na my gemik wat dan langs my gesig die muur getref het. My skrikreaksie het hul oneindige vreugde verskaf.
Ek onthou hoe baie ek getob het oor hoe lank ek daar sou moes bly. Hoe lank sou my vryheid van my ontneem word? Gelukkig is ons die volgende aand vrygelaat en terug na Suid-Afrika. By die grenspos het een van die Suid-Afrikaanse polisiemanne opgemerk: "Die hele land soek na julle."
Môreaand oor 'n week sal ek weer dink aan die gebeure op 19 Mei 1986, dis dan 37 jaar gelede. My vryheid was in 1986 vir 24 uur ontneem en dit was moeilik. As jy so iets beleef verstaan jy werklik wat vryheid is.
In die aanloop tot die onlangse Vryheidsdag het ek juis besin oor vryheid en wat dit vir mense beteken. Ook oor die voorval in 1986.
Op Vryheidsdag, 27 April 2023, gaan doen ek toe iets anders om te leer van my mede-landgenote. Ek gaan soek weer die geselskap op van die 72-jarige man van Thembalethu wat sommige weeksdae op 'n hoek naby die middedorp sit.
Ons het onlangs begin gesels en reeds baie van mekaar geleer. Daar was al selfs 'n komiese insident. Ek het hom in Engels gevra of hy in God glo. Hy het my verkeerd verstaan en na sy rug beduie. Hy kan nie meer in die "garden" werk nie.
Op Vryheidsdag nooi ek hom vir koffie. Voor 1994 was hy nie werklik vry nie en ek wil weet hoe hy nou voel. Ons gaan sit op 'n plek waar ons rustig gesels, terwyl ons koffie drink.
Hy antwoord my vrae. Ja, hy het in 1994 gestem en dit was die moeite werd. Hy is nie bitter of kwaad oor die verlede nie. Hy leer my op die dag selfs die twee Xhosa woorde, vir dankie en hello.
Later gaan laai ek hom by die taxistaanplek in die middedorp af sodat hy kan huis toe gaan. Hy sukkel om met sy kierie uit die motor te klim. Ek hou hom dop. Hy loop sukkel-sukkel en waai vir my.
'n Paar dae later is dit vroegoggend beurtkrag. Ek ry werk toe. Dis pikdonker en in 'n stadium sien ek so in die ry hoe die man stadig en met moeite oor die brug by die spoorlyn met sy kierie stap. Ek draai om en stop by hom. Hy herken my en glimlag.
"Wil jy koffie hê?" vra ek. "Ja meneer," antwoord hy. In stikdonkerte gesels ons weer - onder andere oor hoe donker dit is. Hy antwoord: "Meneer die elektrisiteit is weg." Ek glimlag. Hy beskryf dit so raak.
Die nuwe vriendskap laat my dink. Suid-Afrika het enorme probleme - om dit sagkens te stel. Verhoudings tussen mense is ook nie altyd na wense nie en soms word die verlede bygesleep - van alle kante af. Om te blameer het gewild geword. Natuurlik is foute gemaak. En daar is mense wat dit uitbuit vir hul eie gewin soos vir loopbane in die voorgestoeltes.
My nuwe vriendskap het my opnuut laat besef waar die toekoms van ons mooi land lê: By gewone mense wat uitreik na mekaar. Dit kan enigiemand wees - bure, iemand van 'n ander taal, 'n ander ras, iemand wat ooglopend in nood verkeer, 'n bejaarde wat oor die straat stap of 'n kollega. Dit hoef nie fisiese hulp te wees nie. Dalk net 'n woord van bemoediging.
Doen ons dit nie, gaan ons vir altyd in 'n tronksel bly sit - ontneem van ons vryheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’