GEORGE NUUS - ’n Groepie kinders van Rosemoor het verlede week die kans gehad om regte brandweermanne en -vroue te ontmoet toe die span van Wonc (Women of Noble Character) ’n besoek aan George Brand- en Reddingsdienste gereël het.
Hierdie sosiale groep poog om kinders bloot te stel aan nuwe ervarings en geleenthede wat hul lewens kan verryk.
“Ons wil hê hulle moet besef daar is beter moontlikhede as dit wat hul huidige omstandighede soms wys,” het die groepsleier, Allison Yon, gesê.
Tydens die besoek het die Woncies (meisies) en WWolves (seuns) eerstehands beleef wat brandweerpersoneel daagliks doen. Hulle het heerlik gekuier en die brandweerspan ontmoet wat George veilig hou.
Yon se hoop is dat hierdie ervaring vir die kinders kan wys wat 'n mens met jou lewe kan maak. "Hulle het rolmodelle nodig wat hulle iets gee om na te streef. Hoe meer blootstelling, hoe meer drome," het sy gesê.
Elraynique Stefaans sit al te lekker op Henry Ciko se skouer. Saam met hulle is Learin Baron en Moses Mongo.
Woncies (meisies) en WWolves (seuns) saam met personeel van George-brandweer en die span van Wonc.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’