Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - In Reigerpark het die jongmanne na ’n dag se werk iets om na uit te sien. Daar is vir die klomp niks so lekker as om ’n rugbybal op hul stofveld rond te gooi en ’n vinnige wedstryd te speel nie.
“Rugby maak die ouens rustig,” sê James Smith, voorsitter van die Untouchable Rabbits, Rosedale se eie rugbyspan.
Oor die feesseisoen was, sover bekend, geen moeilikheid in die area nie, en Smith reken dis honderd persent te wyte aan die mans se fokus op rugby en fiksheid. “Ek het hulle truie teen die draad opgehang, en hul waterbottels daar by die truie gesit. Dit was motivering om daagliks te kom oefen en fiks te bly,” sê Smith.
Die jongmans speel op ’n oop stuk grond wat effe skuins afloop.
“Hierdie area is met die hulp van weldoeners platgevee, maar ons het ’n groter area nodig en dit moet opgevul word om die regte vlak te bereik. Al die grond is hier, dit moet net verskuif word. My wens vir die nuwe jaar is hulp met hierdie projek. Ek kan sien watter verskil dit in die kinders en jongmense se lewens maak.”
VIDEO: Untouchable Rabbits - die nuwe "main konyne"van Reigerpark
Volgens Smith is daar sprake van hulp met rugbypale en hy hou duim vas dit gebeur wel. Tans werk hulle aan fiksheid en speel sy spanne gereeld om seker te maak hulle is reg vir die komende seisoen.
“Sommige dae het ons tot 80 kinders en jeugdiges wat opdaag vir oefening. Ons gaan sommer ’n klomp spanne maak.”
Kontak Smith vir hulp of borgskap by 076 271 2343.
Valond Geswind (links, 23) is reg vir die bal. Saam met hom is José Hendricks (18), ’n matriekleerder van Hoërskool Parkdene, en Cuen Swartbooi (27). Foto: Michelle Pienaar
Voorsitter van Untouchable Rabbits, James Smith (links), saam met twee van sy staatmakers, Enrique Gordon (27) en AJ Jansen (17).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’