Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Brandbestryders van verskillende organisasies se spanwerk en 'n bietjie hulp van ligte reën het voorkom dat 'n veldbrand buite Oudtshoorn buite beheer raak.
Die brand het Sondag 25 April in die omgewing van die Raubenheimerdam tussen Oudtshoorn en die Kango-grotte ontstaan.
Anders as die vorige brand, wat tot ernstige waterbesoedeling van die dorp se hoofwaterbron gelei het, het hierdie brand aan die oorkant van die pad, wat verby die dam loop, ontstaan. Die brand het Sondag en Sondagnag vinnig in 'n suid-oostelike rigting versprei.
Brandbestryders van CapeNature, Garden Route-distriksmunisipaliteit (GRDM), Working on Fire en Oudtshoorn-munisipaliteit het Sondag, Sondagnag en Maandag onverpoosd gewerk om die brand onder beheer te kry.
Onderweg met een van tientalle vragte water om op die brand te stort.
Terwyl 'n verkenningsvliegtuig die hele tyd die brand uit die lug dopgehou het en brandspanne ingelig het, het 'n vastevlerkvliegtuig tussen Oudtshoorn en die brand gevlieg en elke keer ongeveer 3 000 liter water oor die brand gegooi.
'n Tenkwa van George-brandweer het by die Oudtshoorn-lughawe gereed gestaan om die vliegtuig se watertenk telkens te hervul. 'n Helikopter van Working on Fire met 'n houer van ongeveer 800 liter, het die hele dag water uit 'n plaasdam naby die brand geskep en die vuur ook uit die lug bestry.
Kyk 'n video hieronder:
Met deurlopende kommunikasie tussen GRDM en Oudtshoorn se rampbestuurspanne kon inwoners op hoogte van die brand gehou word. Teen Maandagmiddag omstreeks 17:00 het die vliegtuie en die helikopter onttrek nadat die voorpunt van die brand, wat toe reeds in heuwels op 'n plaas gewoed het, onder beheer was.
'n Reddingsvoertuig en die boer van Gatplaas se voertuig naby die dam waar die helikopter telkens water geskep het. In die agtergrond is rook van die brand tussen die berge. Foto: Hannes Visser
Brandbestryders van Uniondale het Maandagmiddag by die ander spanne aangesluit om die brand deur die nag te monitor.
Reën wat Maandagnag geval het, het daartoe bygedra dat die brand nie weer opgevlam het nie. Geen strukture is beskadig nie, maar op een plaas is heinings van meer as 'n kilometer vernietig.
Volgens brandbestryders op die toneel kon die brand ook makliker onder beheer gebring word omdat daar nie sterk wind soos met vorige brande was nie. Dit is nie duidelik hoe die brand ontstaan het nie, maar selfs 'n sigaretstompie wat onverskillig in die droë veld weggeskiet word, kan rampspoedige gevolge hê.
'n Tenkwa van George-brandweer het die vliegtuig se watertenk telkens hervul.
Die helikopter lig 800 liter water uit 'n plaasdam. Foto's: Hannes Visser
Lees meer hier:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'