GEORGE NUUS - Verlede Donderdag tydens die eerste vergadering van die reëlingskomitee vir vanjaar se Outeniqua-rolstoelwedren (OCC) is daar 'n beroep op die sake- en breë gemeenskap gedoen om betrokke te raak. Die geleentheid vind vanjaar op 14 September plaas.
Die geleentheid het in die verlede gewoonlik in Februarie plaasgevind.
Die George-munisipaliteit het egter vroeër vanjaar aangekondig dat die geleentheid vir vanjaar afgestel is omdat Acsa (Airports Company South Africa) aangedui het hy gaan nie meer die geleentheid borg nie.
Daarna was daar groot onsekerheid, maar danksy die ingryping van onder meer
dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, Mike Barkley, die sakekamer se sakeleier vir 2018 en die internasionaal bekende atleet, Ernst van Dyk, is die geleentheid gered.
Die geleentheid is verlede jaar vir die 16de keer aangebied. In die verlede het dit al meer as 'n 1 000 atlete gelok en wyle Esther Watson was die groot dryfkrag agter die geleentheid.
Verlede Donderdag se vergadering is deur verskeie belanghebbendes, waaronder Sean Snyman, burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad vir maatskaplike ontwikkeling, bygewoon.
Alewijn Dippenaar, voorsitter van die Disabled Road Race Foundation (DRFF) en die reëlingskomitee, het tydens die vergadering 'n oorsig gegee van die logistieke uitdagings van die geleentheid.
Menslike hulp en fisiese middele word benodig. Van die paaie op die wedrenroete moet tydens die wedren ook gesluit word en waterpunte moet aangebring word. Wanneer die geleentheid verby is, moet opruiming plaasvind.
In aanloop tot die geleentheid is daar die registrasie van deelnemers en na die geleentheid is daar 'n prysuitdelingsgeleentheid waar deelnemers medaljes vir deelname kan ontvang.
Benewens die organiseerders is verskeie instansies soos die polisie, die munisipale verkeers- en wetstoepassingafdeling, ER24, liefdadigheidsorganisasies en die brandweerdienste, betrokke.
Dippenaar het gesê al die aansoeke om die geleentheid te kan laat plaasvind is reeds by die betrokke owerhede ingedien en daar word nog op antwoorde gewag.
Sowat 700 atlete sal na verwagting deelneem en die sluitingsdatum vir aansoeke is twee weke voor die wedren.
In die stadium kort die organiseerders nog sowat R142 000. Sowat 30 maatskappye het aangedui dat hulle bereid is om die geleentheid te steun.
Verskeie vrywilligers word benodig om byvoorbeeld te help om atlete in rolstoele te stoot tydens die pretgedeelte en kospakkies uit te deel.
Snyman het gesê pogings moet aangewend word om George se strate vol te kry. Dit is 'n George-geleentheid.
Hy het voorgestel dat sakeondernemings stalletjies langs die roete beman. Die OCC is 'n geleentheid om bewusmaking van gestremdheid te bevorder.
Arrangements for the Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) is on track. The event will take place on Saturday 14 September. The organising committee had its first meeting last Thursday. The broader and business community are welcome to get involved. They can contact Alewijn Dippenaar, chairperson of the Disabled Road Race Foundation (DRFF) at 082 457 5675.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'