GEORGE NUUES - 'n Onderonsie by 'n kuierplek in Uniondale het vir 'n plaaslike DA-raadslid, Justin Fry sleg uitgedraai.
Dit was veronderstel om 'n gesellige aand saam met vriende te wees, maar Fry het Saterdag 9 November met 16 steekwonde in sy rug en kop geëindig.
Hy staar ook 'n aanklag van aanranding met die doel om te beseer in die gesig en het reeds 'n eerste hofverskyning gemaak. Fry het intussen 'n teenklag aanhangig gemaak.
"Ek moes myself verdedig," het Fry by navraag gesê. "Die ou het 'n vol bierbottel oor my kop stukkend geslaan, en van agter vir my gekom met 'n tweede, stukkende bottel, waarmee hy my gesteek het."
Fry het self 'n bottel gegryp en 'n paar steke uitgedeel. Volgens hom is daar minstens agt getuies wat gesien het wat gebeur het, en kan getuig van sy weergawe van die drama.
"Ek het hom gevra om te loop, hy het skoor gesoek. Ons het nie vir 'n bakleiery of stryery gekom nie. Ek het hom weggestoot en my orkapyp opgetel; daarna het dinge rof geraak."
Volgens Fry het die klaer hom mooi gevra om nie 'n saak te maak nie, want hy het glo reeds vorige veroordelings. "Ek was so verbaas toe ek uitvind hy het 'n saak teen my gemaak," het Fry gesê.
Die eerste hofverskyning sowat twee weke gelede was vir die aanwysing van regsverteenwoordiging. Die saak dien weer voor die hof op Maandag 9 Desember.
Justin Fry
Ooggetuie
'n Mede-eienaar van Niche Corner, waar die voorval plaasgevind het, het haar weergawe van die gebeure met George Herald gedeel. Volgens Vivienne Paris was hulle agt vriende wat saam gekuier het tydens die voorval.
"Die kuierplek was reeds toe en ons was besig om op te pak om te loop. Die klaer was nie deel van ons groep nie," het sy gesê. "Hy het toe by ons groep kom staan en aanmerkings teenoor die groep gemaak, waartydens ons hom geïgnoreer het."
Volgens Paris het hy veral met Fry moeilikheid gesoek, wat op sy beurt die man gevra het om te loop.
"Justin het sy rug op hom gedraai en dis waar die klaer hom met die bierbottel in sy hand van agter af, op sy kop geslaan het. Die klaer het Justin toe gesteek. Justin het omgedraai en het geen ander keuse gehad as om homself te verdedig nie, anders was hy dood. Die sekuriteit het hulle uitmekaar gekry en ek het die nooddienste geskakel."
Wet en orde
Venolea Fortuin, voorsitter van die DA se Oos-streek, het by navraag gesê hulle party glo in wet en orde, en sou daar enige polisiesaak of 'n interne saak by George-munisipaliteit wees, moet behoorlike prosesse gevolg word. "Ons hou by die reëls en uitkoms daarvan," het sy gesê.
In 'n verklaring deur die Good-party verlede week word Fry as die aggressor uitgebeeld, wat die slagoffer na die hospitaal agternasit.
"Die slagoffer beweer verder dat Fry hom na die hospitaal gevolg het en die aanranding voortgesit het, wat daartoe gelei het dat 'n verpleegster die polisie ontbied het. By die hospitaal het die polisie 'n saak van aanranding en ernstige aanranding geopen," lees hul verklaring. Good vra die DA om streng op te tree teen hul raadslid.
Fry het 'n teenklag van ernstige aanranding aanhangig gemaak.
Protokol
George-speaker, Sean Snyman, het gesê die saak het deur die media onder sy aandag gekom. "My kantoor het geen amptelike kommunikasie oor hierdie saak ontvang nie, en dit is teleurstellend dat vasgestelde protokolle nie gevolg is nie," het hy gesê.
"Raadslede is bewus van hul plig om sulke sake aan te meld. Aangesien hierdie saak voor die howe is, moet die geregtelike proses sy gang gaan, en die raad kan nie optree voordat die feite vasgestel is nie."
Snyman het gesê alhoewel die bewerings kommerwekkend is, moet openbare kommentaar op geverifieerde inligting gebaseer wees, nie spekulasie nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’