GEORGE NUUS - 'n Groep van 27 werknemers in die landboubedryf in die George-omgewing het die Bright Star Life Skills Development-program, aangebied deur Arbeidsbediening in die Tuinroete, suksesvol voltooi.
Die program is deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (SAQA) geakkrediteer en Arbeidsbediening het vier SAQA geakkrediteerde fasiliteerders wat dit kan aanbied.
Die program bestaan uit drie modules van vyf sessies elk.
In die eerste module word lewensvaardighede geleer en ingeoefen hoe om 'n positiewe identiteit em lewenshouding te ontwikkel, in die tweede module word geleer hoe om goeie verhoudings in die werkplek te bou en te onderhou, en in die derde module word die vaardighede van betekenisvolle leierskap geleer.
Onder die deelnemers wat die program voltooi het, is eerstevlak- en middelvlakbestuurders.
"Die deelnemers het die inhoud positief ervaar en hulle persoonlike groei en ontwikkeling, is merkbaar.
"Ekonome en sosio-politieke ontleders is dit eens dat ons land nou leierskap nodig het wat nie net 'n helder visie vir ekonomiese groei, werkskepping en verbetering van lewensomstandighede het nie, maar ook oor die teoretiese kennis, praktiese vaardighede en deursettingsvermoë beskik om ons droom oor 'n stad wat lewe in 'n werklikheid te omskep.
"Ons glo dat hierdie program die begin is van 'n proses waarvan die rimpelings in die markplek van George in die toekoms nog verder sal uitkring.
"Die markplek is die hart van die stad. As die hart gesond is, lewe die stad. Arbeidsbediening is daarvan oortuig dat ons 'n betekenisvolle bydrae saam met ander vennote kan lewer om 'n gesonde markplek te help skep," het ds. Floors Meyer, voorsitter van Arbeidsbediening gesê.
Een van die groepe wat die Bright Star-kursus voltooi het saam met, George Kuyler jr. (agter, tweede van regs), uitvoerende hoof van Skimmelkrans Boerdery.
Belangstellendes kan Betsie Fourie van Arbeidsbediening kontak by 076 100 1237 of stuur 'n e-pos na arbeidsbediening.tuinroete@gmail.com.
Arbeidsbediening in die Tuinroete is 'n interkerklike organisasie wat sy bediening veral op die markplek fokus.
Ds. Floors Meyer gesels met die deelnemers by een van die sertifikaatoorhandigingsfunksies. Links van hom is Samuel Juba, die kursusfasiliteerder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'