GEORGE NUUS - George se eie gospelsanger, Gregory Noble, laat nie gras onder sy voete groei nie en spog deesdae met sy eie TV-program, Gospel met Gregory, op Onse TV.
Die eerste uitsending van 10 voorafopgeneemde programme, was verlede Sondag, 15 Augustus, op Onse TV te sien. Onse TV is ‘n kanaal beskikbaar op Starsat-dekodeerders of kan by www.onsetv.co.za gesien word.
“Dis ‘n ongelooflike geleentheid wat ek gekry het om 10 episodes vol plaaslike talent bekend te stel op Onse TV. Dis ‘n jare lange droom wat eindelik waar geword het. Dit wys jou net, moenie ophou droom nie. Met harde werk en toewyding, kom sukses,” sê Noble
Vyf van die tien programme is in Pacaltsdorp by die gewilde Oom Bull Coffee Shop in Missionstraat opgeneem en die ander vyf in Kaapstad.
“Tydens die programme kuier ek saam met plaaslike gospelsangers en gesels met hulle oor hul sangtalent en hul kinderjare. Ons beoog ook om kore, asook acapella-groepe eie aan ons gemeenskap se kultuur, op te neem,” vertel Noble.
Tydens eerskomende Sondag, 22 Augustus, se episode van Gospel met Gregory, kan kykers uitsien om saam met Germaine Leonard, ‘n musiekonderwyser van Parkdene Sekondêr te kuier.
“Die reaksie op ons eerste uitsending was goed en ek weet dit gaan nog baie groei. Daar is baie mense wat honger is vir opheffing - verál in die tyd waarin ons onsself bevind,” sê Noble.
Morné Gallant van Sedgefield maak ook eersdaags ‘n draai by Noble, asook die Wesso’s van Borcherds wat in 2020 aan die musiekprogram, Maak My Famous, deelgeneem het.
Gospel met Gregory word Sondae om 11:30 uitgesaai met die herhaling om 19:00.
‘n Skermgreep van Noble se program, Gospel met Gregory, op Onse TV.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'