Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - “Daar moet nuut gedink word. Ons moet met ‘n nuwe plan kom. Die ou plan het nie gewerk nie.” So het Peter Marais, die VFPlus se premierskandidaat in die Wes-Kaap, tydens sy eerste vergadering in George in die hoedanigheid, gesê. Die geleentheid, Vrydagaand by die Vierkleurhof B&B, is onder meer bygewoon deur ondersteuners van die party en plaaslike Khoisan-leiers.
Toe die vergadering begin het, was die krag nog aan, maar dit is later by kerslig en ligte wat met batterye werk voortgesit, toe Eskom se beurtkrag ingeskop het.
Volgens Marais was die ou plan (die onderhandelde grondwetskikking van die nuwe bedeling) ‘n ingevoerde plan van oorsee wat op Suid-Afrikaners afgedwing is.
‘n Nuwe politieke denkrigting en filosofie is nodig. Die reëls van die spel moet verander word. Hy het gewaarsku dat Suid-Afrika besig is om in die afgrond te gaan. Hy het gesê wit en bruin hoort saam. “As Afrikaanssprekendes dit nie aanvaar nie, gaan Afrika die begraafplaas word van die Afrikaner.”
Die VFPlus wil vir almal ‘n plekke in die son verseker. Marais het uitgespel hoe hy die gevare van meerderheidsregering sien. Dit is soos twee rugbyspanne waarvan die een span 80 spelers het en die ander 20. Die 20 spelers sal noot ‘n drie kan druk nie.
Kyk video's hieronder.
Hy het aangevoer dat die DA van Helen Zille as leier ontslae geraak het, omdat sy ‘n federalis is. Sedert haar vertrek het die party wegbeweeg van federalisme. Mmusi Maimane, die DA-leier het sy oog op die presidentskap. Die DA se beleid gaan nie oor die beskerming van minderhede nie. Wat Marais betref is die DA nie die antwoord nie en daar is geen verskil tussen die DA en die ANC nie.
Dr. Corné Mulder, Wes-Kaapse VFPlus het die party se fokus op minderhede verdedig. Volgens hom kan minderhede, as hulle saamwerk, ‘n nuwe meerderheid vorm. Suid-Afrika is ‘n diverse land. “As jy ‘n suksesresep wil hê moet die verskeidenheid in die land erken word.”
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'