GEORGE NUUS - Die Pepsi-poele in George se berge, anderkant Saasveld, is een van George se kosbaarste juwele. Inwoners soek graag hier lafenis op 'n warm somersdag, hou piekniek op die rotse en geniet die koel water met die besondere kleur van tee, of natuurlik, Pepsi.
'n Groep onfikse stappers het verlede Sondag 28 Januarie saam met Sinead Hattingh van Heartbeat Adventures op hierdie klein avontuur gegaan.
Langs die pad geniet 'n mens die natuurskoon, die immergroen varings, ruik jy die fynbos en verloor jy die week se stres so bietjie vir bietjie. Op pad na die poele loop jy dalk ander stappers raak, sommige met jong kinders op die rug, ander wat sommer op 'n fiets soontoe ry.
Vanaf die NMU George-kampus (Saasveld) is dit net sowat 5 km na die poele en terug. 'n Maklike stappie, bykans soos 'n parkrun. Daar is egter meer as een roete na die Pepsi-poele, en kan 'n mens voetslaan of fietsry vanaf die Tuinroete-dam, wat so 'n bietjie langer avontuur verseker.
Die gallery van foto's deel van die oomblikke wat stappers en baaiers by die poele geniet het.
FOTOGALERY - Pepsi-poele wink vir waterliefhebbers in George
Twee Tarzantoue aan die agterkant van die poel was 'n lekker speelding vir diegene wat kans gesien het. Nietemin het die weer saamgespeel, en kon rots-sitters ook hulle oggend in die sonnetjie geniet.
Die klein stapgeselskap saam met Sinead Hattingh (agter regs) van Heartbeat Adventures.
Kian en Michelle Pienaar koel af in die poel. Foto: Sinead Hattingh
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’