GEORGE NUUS - Die GO GEORGE Slimkaart het op 15 November in werking getree met passasiers wat eers drie dae later hul kaarte begin gebruik het, ná 'n komplimentêre periode van gratis bus ry vir kaarthouers. Die jongste verkoopsyfers toon dat 14 380 Slimkaarte reeds verkoop is, en 'n geskatte 90% van daaglikse ritte wat sedert Sondag 18 November onderneem is, is gedoen deur Slimkaarthouers.
"Ons was voorbereid om verskeie moontlike probleme op te los aangesien mens nooit weet watter draaibal mag opduik met die implementering van 'n algehele nuwe stelsel nie," sê James Robb, GO GEORGE-bestuurder.
"Ons mikpunt was om ongerief vir passasiers tot die minimum te beperk, en ek kan sê dat die aanvanklike paar haakplekke maklik was om te identifiseer en dat ons besig is om dit aan te spreek. Dit beteken nie dat alles van nou af seepglad gaan verloop nie, maar ons is vol vertroue dat die beplanning wat in die geoutomatiseerde stelsel ingegaan het, vrugte afwerp."
Passasiers wat enige probleme met hul Slimkaarte ondervind word versoek om na hul naaste Slimkaartkiosk te gaan waar die personeel die kaart sal toets. Hul laaste kwitansie en Slimkaart saam sal al die inligting bevat wat nodig is om die klagte te registreer: datum, tyd, roete, bushalte, bestuurder en busnommer.
Indien 'n kaart foutief bevind word, sal dit gratis vervang word en die balans van ritte daarop oorgeplaas word.
Indien 'n kaart beskadig is, kan die kaarthouer 'n nuwe een koop teen die normale prys van R40 en ook die ritbalans laat oordra ná verifikasie.
Vir enige navrae oor die ligging van mobiele Slimkaartvoertuie en -kiosks of herlaaipunte, of hoe om die kaaart te gebruik, skakel die GO GEORGE-inbelsentrum by 0800 044 044.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'