GEORGE NUUS - In stede daarvan om vir hul dogter 'n Kersgeskenk uit te kies, moes Soneé Witbooi (néé le Roux) se ouers 'n grafkis kies.
"Dit wat gebeur het, is nog so onwerklik. Ons sonskynkind en haar aansteeklike laggie sal ontsettend gemis word. Sy sal altyd in ons harte wees." Só sê 'n gebroke ma ná haar dogter wreedaardig deur haar man vermoor is.
Die man, Rodney Witbooi (33), word daarvan aangekla dat hy sy vrou op Woensdag 21 Desember met 'n panga by hul huis in Boekenhoutstraat, Loeriepark, vermoor het.
Soneé se ma, wie verkies om haar identiteit te weerhou, was by haar oudste dogter in Noordwes tydens die voorval. "Ek was veronderstel om die Kerstyd saam met haar en my kleinseuns te geniet. My man werk in die buiteland. Ai, dis als nog so onwerklik," vertel sy.
Witbooi is kort ná die voorval op die toneel in hegtenis geneem en het op Vrydag 23 Desember sy eerste verskyning in die hof gemaak. Die saak is uitgestel vir regshulp, en Witbooi sal weer op 12 Januarie in die George-landdroshof verskyn. Hy bly in aanhouding.
Hy staan ook tereg op 'n aanklag van poging tot moord ná 'n tweede slagoffer, wat tussen beide wou tree, ook beseer is. Sy is hospitaal toe geneem vir mediese sorg.
Die egpaar het onlangs getrou.
Volgens Soneé se ma het haar dogter reeds 'n beskermingsbevel teen Witbooi gehad.
"Sy was ons almal se sonskynkind. Haar getroude lewe was hel en deur dit alles het sy haar pyn en vrees weggesteek en ons nog elke dag gegroet met haar blink ogies en glimlag op gesiggie vanuit haar hart," vertel die ma.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die polisie omstreeks 02:00 op die voorval by die huis gereageer en die oorledene met veelvuldige wonde in die huis gevind. Sy is met 'n panga aangerand en op die toneel dood verklaar.
Sy het mense aangeraak
Soneé se ma vertel dat haar dogter altyd uitgereik het na almal en probeer help waar sy kon. "Sy sou alles met almal deel om gelukkig te wees. Haar skoolloopbaan het sy aangepak met alles in haar en was een van die top 10 leerders in die skool. Sy het nooit teruggestaan en opgegee nie. Eers ná haar afsterwe het ons besef hoeveel mense se harte sy aangeraak het. Sy was van nature 'n goeie kind en haar geloof in God was groot. Rus in vrede en sprei jou vlerke Soneé. Jy is nou heeltemal gevrywaar van die ewel en vrees."
"Sy laat ons as ouers, skoonma, haar ouma en altwee haar sussies asook haar twee kleinneefs agter."
Soneé is op Vrydag 30 Desember ter ruste gelê.
Die foto van Soneé wat by haar roudiens gebruik is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'