GEORGE NUUS - Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) tesame met Pacaltsdorp-polisie het Sondagoggend, 27 November, hul Veiliger Feestyd-veldtog bekendgestel.
GPF- en buurtwaglede, die Gwaiing Aksiegroep, Joanie Visagie-begrafnisondernemers, Pacaltsdorp Riding Club en lede van Le Grant Roses RFC Pacaltsdorp, het Sondagoggend in die strate van New Dawnpark aan 'n optog deelgeneem om bewusmaking te skep oor die geleentheid.
Die optog is gelei deur Pacaltsdorp-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Hans Blaauw en die geleentheid is deur pastoor Aldon Meyer met 'n kort preek en gebed geopen.
Die bekendstelling van die veldtog het saam met 'n dankseggingsdiens en kranslegging op die oop veld in Proteaweg plaasgevind en volg kort ná die liggame van twee jong mans van dié gebied onlangs naby die grotte by die Schaapkoprivier, gevind is.
Die liggame is gevind sowat twee weke ná Isaac-Lee Ismail Ayford (21) en Andy Stoffels (25) as vermis aangemeld is. Stoffels kon aan sy tatoeëermerke uitgeken word, maar die ander liggaam was té ver ontbind om sonder DNS-toetse 'n uitkenning te doen.
Daar word geglo dat die ander liggaam die van Ayford is, maar die DNS-uitslae moet dit eers bevestig.
Die optog het Sondagoggend deur die strate van New Dawnpark beweeg en mense is aangemoedig om by die dankseggingsgeleentheid en die aankondiging van die Veiliger Feestyd-veldtog, aan te sluit.
Tydens sy toespraak het Pacaltsdorp-GPF se voorsitter, Charly Daman, gesê dat veral die jongmense van die Pacaltsdorp-omgewing, deur geweld en misdaad geteiken word.
Nie net word hulle slagoffers van geweldsmisdade nie, maar drank, dwelms en bendes is groot euwels wat dié gebied en sy jongmense teister.
Pastoor Aldon Meyer het die geleentheid met 'n kort preek en gebed geopen.
"Ons verloor ons seuns en dogters aan die hand van misdaad. Ons kan nie wag vir die polisie om ons te beveilig nie, ons het elkeen 'n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap se veiligheid en ons moet onsself beveilig. Kom ons vat hande en help mekaar.
"Daar is hulp vir ons kinders, daar is 'n toekoms. Ek maak 'n belofte vandag – daar gaan geen meer lewens in Pacaltsdorp geneem word nie. Saam gaan ons 'n verskil maak. Weg met dwelms, drank en bendegeweld. Genoeg is genoeg!" het Daman tydens sy toespraak gesê.
Blaauw, wyksraadslid Theresa Jeyi en ander gemeenskapsleiers het ook die geleentheid bygewoon en almal is dit eens, misdaad in Pacaltsdorp gaan hand en tand beveg word.
'n Handjie vol mense het die geleentheid bygewoon. Soos die oggend verloop het, het meer mense aangesluit.
Wyksraadslid Theresa Jeyi het inwoners aangemoedig om hul eie strate te beveilig en netjies te hou om misdaad uit New Dawnpark te dryf.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'