GEORGE NUUS - Cecilia Noble, beter bekend as Tannie Tiella, het gister, Dinsdag 23 Februarie, haar 80ste verjaarsdag gevier. Haar seun, Gregory Noble, sê hulle het die dag so spesiaal moontlik gemaak, ten spyte van Covid-19 wat familie en vriende weghou van ‘n groot bymekaarkoms.
Noble sê hulle het darem sy ma verras met ‘n uitstappie dorp toe nadat sy die oggend haar hare laat mooimaak het. Haar beste lewensles was, om die Here deel van haar lewe te maak.
“Ek het geweet die beste ding ooit was om Hom te kies. As Christus aan die stuur is, kan mense enige storm verduur.”
Tannie Tiella het ook kortliks vertel van haar kinderdae. Hoe sy by haar grootouers grootgeword het, en hier het sy geleer om jou vader en moeder te eer sodat jou dae verleng kan word. “Ek was die beste atleet op skool, ek het net eerste gekom. As my ouers my winkel toe gestuur het, dan het ek gehardloop,” lag sy.
Sy glo die volgende en het ook tot dusver so geleef - Wees gehoorsaam aan jou ouers, wees altyd die minste en wandel in liefde vir jou medemens.
Tannie Tiella is ook ‘n bekende vroedvrou. Sy het mammies gehelp wat gesukkel het om swanger te raak, en vir hulle spesiale medisyne gemaak. Haar familie vertel van al die kinders in Pacaltsdorp wat hier is omdat sy die gawe het. Sy is ook Dinsdagaand verras deur die Wesso’s, ‘n groep sangers van George. Noble vertel hulle het dit lewendig op Facebook uitgesaai.
“Dit was baie geseënd. Hul lied aan Mamma, Ek lê Jesus se voete neer het harte diep geraak.”
Die Noble-familie wil almal bedank wat ‘n boodskap gestuur het om hul ma geluk te wens.
Gregory Noble en sy ma, Cecelia Noble.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'