GEORGE NUUS - 'n Bekende van Pacaltsdorp, Belrina Cornelius (59), het Maandagaand in George-hospitaal gesterf.
Die vermoede bestaan dat sy weens hartversaking oorlede is. Antie Bellie, soos sy liefderyk genoem is, het diep spore in plaaslike politiek getrap.
Sy het skaars twee maande gelede, kort na die dood van die politikus Mercia Draghoender, 'n gesprek met George Herald oor hul hegte vriendskap gehad. "Hulle was soos vinkel en koljander," het 'n kennis gesê.
EFF LP Laetitia Arries, ook 'n oud-Pacaltsdorper, noem Belrina een van haar erfstukke: "Antie Bellie, Mercia, Mr [Kidron] Kaboni en Bazil [Petrus] het almal 'n pad saam met my pa, wyle George-raadslid Freddie Arries, gestap. Hulle was voorvegters vir al die gemeenskap struggles. Ek was maar altyd saam met my pa en Antie Bellie-hulle."
Die politikus Rosa Louw, PR-raadslid vir die Good-party, het vertel hoe sy, Belrina en Mercia destyds in die middel 90's deel was van die George Gemeenskap Inisiatief (GGI), en later by die Onafhanklike Demokrate aangesluit het.
"Ons is daarna oor na die DA, waarna ons politieke paadjies sowat drie jaar gelede geskei het," het Rosa gesê. "Maar ons was nog altyd baie goeie vriende. Daai tipe wat, al is jy kwaad oor iets, later maar weer goed word. Belrina was altyd die een wat vir ons vertel het hoe iets gedoen moet word. 'Onthou, ek is 'n oud-Pacaltsdorper', het sy altyd gesê."
Laetitia het oor die naweek 'n oproep van Belrina gekry: "Sy het gesê sy is in die hospitaal en is baie geswel. Ek het nog vir haar gesê: 'Gelukkig leef jy darem nog!' Maandag toe bel haar dogter my om te sê die dokter sê haar ma moet weer inkom. Ek het Sondag van die Kaap na George gereis om Antie Bellie te sien."
"Ek het haar Maandag in die hospitaal besoek. Sy het haar oë oopgemaak toe sy my stem hoor," het Laetitia gesê. "Ek kon sien haar kondisie is nie goed nie."
Laetitia het gesê Belrina was die tipe mens wat ander se behoeftes voor haar eie sou sit: "As ons kyk na die ekonomiese situasie in die land het politiek vir baie 'n job opportunity geraak. Antie Bellie en my pa kom uit die tyd waar dit werklik gegaan het oor die needs van die mense, en nie oor geld en posisie nie. Daai is die tipe mens wat sy was. Ons is albei oud-Pacaltsdorpers, gebore en getoë."
Belrina Cornelius, destyds as DA George-raadslid. Foto: Michelle Pienaar
Belrina word oorleef deur haar man, Charles Cornelius (vroeër jare die drywer van die Tjoe-tjoetrein) hulle dogters Elfrieda en Sarina, en haar broers en susters. "Sy het haar familie gevalue. Sy het haar altyd oor almal ontferm. Haar hand was oop," het Laetitia gesê.
'n Troosdiens word Vrydagaand om 19:00 by die NG kerk Pacaltsdorp gehou. Die begrafnis vind Saterdagmiddag om 13:00 by die Cornelius-gesin se huis in Hammerkopsingel 6, Andersonville, plaas, en om 14:00 by NG kerk Pacaltsdorp.
Vinkel en koljander: Mercia Draghoender (links) en Belrina Cornelius, in die George-raadsaal. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'