Update
GEORGE NUUS - 'n Getroude paartjie wat verlede week in 'n plaashuis naby die Ou Lughawepad (R102) aangeval en beroof is, sterk tans tuis aan na hul nagmerrie ondervinding.
Die man en vrou, wat graag anoniem wil bly, is verlede Donderdagaand, 29 Junie, kort voor 20:00 in hul huis in 'n landelike gebied agter George-kwekery deur vier mans aangeval en beroof.
Volgens iemand na aan die slagoffers, is die man in Mediclinic George se intensiewesorgeenheid opgeneem met skedelbreuk en die vrou is behandel vir 'n gebreekte arm.
"Hulle is nou tuis, maar sy kop is ongelooflik seer. Hy moet dinge rustig vat. Dit was 'n geweldige hou," het die bron gesê. Die man is blykbaar met 'n slotsnyer (bolt cutter) deur een van die aanvallers oor die kop geslaan.
"Die vrou het die oomblik toe sy die kans kry, weggehardloop, maar sy het gestruikel op pad na die bure toe, en het op haar arm geval en dit gebreek," het hy gesê. Beide is in die teater vir hul beserings behandel.
Luidens terugvoer van die provinsiale polisiewoordvoerder lt. kol. Malcolm Pojie, het die vrou daarin geslaag om haarself los te wikkel.
"Die paartjie is deur die bure vir mediese behandeling na die hospitaal geneem voor die polisie op die toneel verskyn het," het Pojie gesê. Die polisie het 'n saak van huisroof geopen vir verdere ondersoek.
Tydens aandete
Die paartjie was blykbaar besig om aandete te eet toe vier mans met balaklawas en handskoene, twee slotsnyers en 'n koevoet by die voordeur inloop.
"Hulle is in die slaapkamer vasgebind, en die deur is toegemaak," het die bron gesê. "Die mans het twee selfone, twee skootrekenaars, 'n televisie en kontant uit die slagoffers se beursies gesteel. Dit is waarvan ons weet. Daar is moontlik ander goed ook weg. Hulle het die simkaarte van die selfone langs 'n plas bloed neergegooi."
Kort na die voorval het verteenwoordigers van verskeie buurt- en plaaswagte die area gefynkam met honde, op soek na die aanvallers.
"Daar was sowat 40 mense wat gesoek het," het die bron gesê. "Dit is die eerste keer wat so iets met hulle [die egpaar] gebeur. Hulle het vyf klein hondjies, maar daar was nie 'n waarskuwing wat ek van weet nie. Hulle woon nie eens naby die pad nie. Dit is sowat 500 m van hul huis na die pad," het die bron gesê.
"Die mense in George moet meer waaksaam wees. George is nie meer die George van jare gelede nie, dit is nie meer net 'n vakansiedorp of aftreedorp nie."
Enigeen wat inligting oor die verdagtes het, word versoek om die George-speurtak te kontak by 044 803 4714 of Stop Misdaad by 08600 10111.
Vorige artikel: Aanval en huisroof op paartjie in plaasgebied
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'