GEORGE NUUS - Daar is Dinsdag 6 Februarie breed geglimlag toe die Outeniqua Powervan, 'n ikoniese toeriste aantrekkingskrag van George, se 25ste verjaarsdag gevier is.
Die breedste glimlag het aan Nicol Marais behoort, die dryfkrag agter die treintjies met hul rooi waentjies wat dit oor die jare vir duisende mense moontlik gemaak het om die asemrowende uitsigte vanaf die Outeniquaberge te bewonder.
Reeds van vroegdag het talle mense by die Outeniqua-vervoermuseum bymekaargekom om met die berg op te ry. Onder hulle was talle mense wat destyds ook by die eerste ritte betrokke was.
Eenkant was klein koekies in 'n 25 syfer uitgepak om aanwesiges te herinner aan die besondere mylpaal. Na raming word sowat 15 000 passasiers elke jaar teen die berg uitgeneem.
Dis 'n roete van 50 km heen en weer. Tydens die rit word daar deur ses tonnels gery. Benewens die uitsigte is die besondere plantegroei in die berg ook te sien.
Charl Marais (links), Patric Kutala en Nicol Marais kort voor die begin van een van die verjaarsdagritte.
Kort voordat op die verjaarsdagritte vertrek is het Nicol teruggedink aan die begindae. Hy het destyds vroeër afgetree as hoof van Laerskool George-Suid. Hy het gekyk na iets om sy pensioen aan te vul.
Hy het gedink aan Psalm 121 waarin staan: "Ek kyk op na die berge." Marais wou mense teen die berg kry, maar het aanvanklik nie geweet hoe nie.
Nooit het hy kon droom dat dit so sou groei nie.
In 'n kort verjaarsdagboodskap het hy gesê dit was 'n droom wat waar geword het. Tot groot vermaak van aanwesiges het hy bygevoeg: "Dit was 'n droom met baie nagmerries. Moenie 'n fout maak nie."
Lorraine Kolarich, toergids en Johan Boshoff, een van die drywers van die waentjies. Beide is van die begin van die Power Van daarby betrokke.
Hy het die berg beskryf as een van George se grootste bates. "Ons moet dit so hou. Die natuurskoon, die watervalle, die dierelewe en die plantegroei - dis 'n besondere bate. Ons moet dit soos goud bewaar."
Hy het almal, insluitende Transnet, wat dit moontlik gemaak het, bedank.
Net soos hy op 55 jaar met die projek begin het, het hy heel gepas die leisels amptelik aan sy een seun, Charl, oorhandig wat nou ook 55 jaar oud is. Charl word bygestaan deur sy vrou, Vivia.
Charl het gesê daar word gekyk om die kapasiteit van passasiers uit te brei.
Toe was dit tyd om te ry. Een van die staatmakers oor baie jare Patric Kutala, 'n werktuigkundige het nadergestaan om te kyk of alles klopdisselboom is.
George Herald het Dinsdag saamgery. Johan Boshoff, wat van die begin betrokke was, was aan die stuur van een van die waentjies. Oor die jare het hy letterlik duisende kilometers op en af teen die berg gery. By die piekniekplek het hy vertel dis aangename werk. "Elke keer is dit ander mense."
Lorraine Kolarich, die toergids, was ook van die begin betrokke. Tydens die rit het sy oor interessanthede van die omgewing vertel en bekende landmerke uitgewys soos die Outeniquapas, Montagupas, die Cradockpas en die ou tolhuis.
Sy het dit beskryf as interessante werk. "Elke dag ontmoet ek byna 25 nuwe mense."
Onder die passasiers was Guy Linton van Edinburgh in Skotland. Hy het die rit as wonderlik beskryf met besondere uitsigte.
Die piekniekplek hoog teen die berg was Dinsdag 'n baie gewilde plek om foto's te neem en ook verjaarsdag te vier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’