GEORGE NUUS - Opgraderingswerk ter waarde van R4 miljoen word tans by die Pacaltsdorp-kliniek gedoen en dit bemoeilik kliëntediens.
Dit is volgens Nadia Ferreira, distrikswoordvoerder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, wat gereageer het op 'n navraag van die George Herald oor klagtes van pasiënte oor diens by die kliniek.
Volgens 'n pasiënt wat anoniem wil bly, kan jou "kliniekdag" by hierdie kliniek een groot beproewing wees wanneer die toue en die wagtyd etlike ure lank raak, wat dikwels gebeur.
Sy was moedeloos nadat sy en haar seuntjie onlangs daar was vir hul doktersafspraak wat vir 09:00 geskeduleer was. Hulle is eers teen 14:00 gehelp.
Hulle lêers was blykbaar soek en sy is op 'n stadium na die nuwe ontvangs agter die gebou gestuur. In haar soektog daarna het sy by 'n vraghouer ingeloer en hope lêers opmekaar gestapel gesien en gewonder of haar lêer dalk daar was. Sy is afgejak toe sy daarna by 'n deur aanklop wat die teekamer was, voordat sy die ontvangs gekry het.
"Toe ons uiteindelik by die dokter uitkom, is ons baie goed behandel, ook deur die verpleegsuster."
Ferreira het verduidelik dat die hele kliniek geverf word en nuwe vloere gelê word. Al die geute, dele van die plafonne en alle ligte word vervang. Die ontvangs word opgegradeer en die dak word herstel.
Pasiënte wat in 'n al hoe langer wordende tou by die kliniek gestaan het verlede Vrydagoggend tydens 'n besoek van die koerant, het die klaer se sentimente gedeel.
'n Vrou wat net as René bekend wil wees, het gesê dis die laaste keer dat sy haar ma na die kliniek toe bring. "Hulle liasseerstelsel is 'n gemors. My ma het 'n afspraak, maar ek weet nie hoe lank sy gaan wag nie.
"Ek glo hulle kan meer georganiseerd wees en die vloei verbeter deur verskillende vensters te hê soos vir noodgevalle en ma's met babas. Hier's ook net een dokter vir die hele Pacaltsdorp.
"Die diens is beter in Thembalethu, maar Pacaltsdorpers mag nie daar behandel word nie, so ek gaan my ma in die toekoms na Easycare in die dorp neem."
Sekere dienste word uit die vraghouers gelewer.
Volgens Ferreira, het die bouwerk die kliniek genoodsaak om die pasiëntelêers tydelik te skuif. "Wat pasiëntvloei betref, probeer ons so gereeld moontlik deur die dag inligting aankondig."
Sy het gesê verwarring sal uitgeskakel word wanneer die registerarea eersdaags weer terug sal wees waar dit oorspronklik was. "Ons bedank die publiek vir hulle geduld terwyl ons die nodige opgraderings afhandel." Die projek sal na verwagting einde Maart voltooi word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’