GEORGE NUUS - Lede van die George-polisie het Vrydagaand, 23 Augustus, 'n 35-jarige verdagte in Nelson Mandela-boulevard in hegtenis geneem vir die vermoedelike besit van Mandrax en tik.
Die polisie het gereageer op 'n klagte van 'n bakleiery by die Sasol-vulstasie.
Volgens 'n kommunikasiebeampte van die George-polisie, sers. Michael Opperman, het die lede met hul aankoms op die toneel 'n verdagte VW Polo, wat by die petrolpompe gestaan het, opgemerk.
"Ons lede het 'n deurskynende plastieksakkie in die bestuurder se hand opgemerk. Met verdere ondersoek het hulle twee klein pakkies tik en 'n nege Mandrax-tablette gekonfiskeer. Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en 'n saak van die besit van dwelms word ondersoek," sê Opperman.
Die verdagte is aangekla en sou op Maandag 26 Augustus in die George-landdroshof verskyn. Die saak is egter nie op die hofrol geplaas nie hangende die laboratoriumverslae. Die verdagte is voorlopig vrygelaat.
Polisie op die toneel by Sasol in Nelson Mandela-boulevard. Foto: Christo Gawie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'