GEORGE NUUS - 'n Vrou van George, Yolande Minnie (38), is dankbaar om te leef ná sy op 5 Maart in Nelson Mandela-boulevard deur 'n taxi omgery is.
Minnie, wat onlangs na George verhuis het en by Protea Hotel King George werk, was op pad werk toe, toe die taxi haar in Nelson Mandela-boulevard tref.
"Ek was op pad na die busstop om te gaan werk. Die taxi het uit die rigting van die industriële gebied gekom toe dit my tref en wegry.
"Die bestuurder het net om-gekyk en vir my geskree om te 'voetsek'. Daarna het ek my bewussyn verloor," sê sy.
Toe Minnie bykom het 'n onbekende man haar gehelp om op 'n bus te klim waarna sy eers werk toe is en toe huis toe.
"Op pad huis toe het ek by Tekkie Town inmekaargesak en 'n ambulans is ontbied om my na George-hospitaal te neem," vertel sy.
Volgens Minnie is sy vir haar beserings behandel en dieselfde dag ontslaan, maar sy sê dat sy die volgende dag baie vreemd gevoel het. Sy is terug na die hospitaal waar 'n breinskandering gedoen is en bloeding op haar brein opgemerk is.
Sy is kort daarna na die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geneem waar sy twee breinoperasies ondergaan het.
Nadia Ferreira, distrikswoord-voerder vir die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het bevestig dat Minnie by George-hospitaal behandeling ontvang het waarna sy na Groote Schuur oorgeplaas is.
Betz Meiring, Minnie se ma van Boesmansriviermond in die Oos-Kaap, sê haar dogter ly tans aan lang- en korttermyn geheueverlies.
"Die neurochirurg het my geskakel en gesê hoe kritiek sy is. Sy was vir 12 dae in die hospitaal waarvan sy sewe in die intensiewesorgeenheid was. Sy het ander beserings ook opgedoen," vertel Meiring.
Minnie het Vrydag 25 Maart na George teruggekeer en beoog om vandeesweek 'n saak by die polisie aan te meld.
"Ons is egter op soek na ooggetuies om ons saak te versterk," sê Meiring.
Enige ooggetuies word gevra om Meiring by 063 457 7097 te skakel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'