GEORGE NUUS - Ongelukkigheid oor die toestand van infrastruktuur by Gwaiingriviermond digby Pacaltsdorp sal waarskynlik vroeg in 2021 bespreek word.
Lede van die Gwaiingrivier-aksiegroep is ontstoke oor die toestand van geriewe en het reeds 'n vergadering met die munisipaliteit daaroor aangevra. Dit is baie 'n gewilde uitspanplek.
Die munisipaliteit het intussen aangedui dat hy bereid is om weer 'n vergadering met die Gwaiingrivier-aksiegroep en die gemeenskap in die nuwe jaar te belê.
Blanche Benjamin, voorsitter van die Gwaiingrivier-aksiegroep, het by navraag gesê hulle was reeds in verbinding met die munisipaliteit, maar is nie tevrede met die antwoorde nie. "Ons is bekommerd oor die toestand van geriewe. Ons is nie tevrede met die antwoorde wat die munisipaliteit verskaf het nie."
Sy het benadruk dit gaan nie oor enige moontlike nuwe ontwikkeling in die gebied nie. "Dit gaan oor die veiligheid van besoekers."
Volgens haar is die gemeenskap ontevrede omdat die plek in 30 jaar "nog nooit op die begroting vir dienslewering is nie".
"Tot op hede is daar geen veilige of toeganklike opritte tot in die water nie. Hierdie strand het geskiedkundige waarde vir die gemeenskap van Pacaltsdorp."
Die “infrastruktuur” wat oor die jare deur die munisipaliteit daar opgerig is vir toegang tot die water was nog met elke poging substandard en daarom breek dit. Die ablusieblokke wat gesloop was, is verwaarloos gelaat deur die vorige huurder.
Die gemeenskap van Pacaltsdorp versoek dat 'n gemeenskapsvergadering oor die aangeleentheid so vroeg as moontlik in 2021 belê word. "Die samewerking van die George-munisipaliteit sal waardeer word."
Munisipaliteit se reaksie:
Die munisipaliteit sê sy departement van Omgewingsdienste praat deurlopend met die Gwaiingrivier-aksiegroep rondom kwessies by die mond en is bereid om weer 'n vergadering met hierdie groep en die gemeenskap in die nuwe jaar te belê - mits Covid-19-status en verwante maatreëls dit toelaat.
Daar is ongelukkig ‘n beperkte algemene begroting vir die opknapping van strande wat tussen al ses strande in die George munisipale gebied verdeel moet word. Daar is ook nie altyd fondse beskikbaar nie omdat strande nie as ‘n kerndiens beskou word in vergelyking met ander gemeenskapsdienste soos byvoorbeeld vullisverwydering nie. Die department sal egter weer die behoeftes by Gwaiingriviermond assesseer en by die volgende finansiële jaar se GOP (IDP) byvoeg, maar is nie verseker van fondse net omdat dit gelys is nie.
Daar is tans ‘n begroting vir Gwaiing wat waarskynlik grotendeels gebruik sal word om kwessies aan te spreek wat voortspruit uit die aksiegroep se oorspronklike besware teen beplande uitbreiding van kampplekke en dagkamp-areas, jare terug, wat uiteindelik ‘n Afdeling24G-regstellingsondersoek tot gevolg gehad het. Die Wes-Kaap provinsie is tans besig met ‘n omgewingsimpakstudie in hierdie verband en die uitslag hiervan sal toekomstige moontlike uitgawes en ontwikkeling bepaal.
Die afgelope twee jaar is fondse gebruik om die kampterrein bo die strand te verbeter, wat onder andere die installering van ‘n toilet en stort vir gestremde persone ingesluit het - die uitgawe word as ‘n belegging beskou omdat goeie fasiliteite kampeerders sal lok en dus inkomste vir die munisipaliteit kan genereer, wat kan bydra tot die begroting vir die toekoms.
Bo en behalwe die kampterrein is daar deurlopende basiese opknapping wat by Gwaiing gebeur insluitend die publieke toilette onder by die strand, wat onlangs die regmaak van rioolpype ingesluit het.
Die munisipaliteit stem saam dat die gebreekte relings aandag moet geniet en sal in die nuwe jaar begin met die proses om ‘n diensverskaffer daarvoor aan te stel. Daar word beoog om mariene-graad vleklose staal relings te installeer wat sterker en meer weerbestand is - die aankoopproses hiervoor neem ongelukkig ‘n tydjie en daar was ongelukkig vanweë die Covid-19- pandemie nie genoeg tyd om dit voor die vakansieseisoen gedoen te kry nie. Intussen is daar instruksie gegee dat die bestaande houtrelings, wat deur die see en vandale beskadig is, weer opgeknap moet word. Ons vra ook die hulp vanaf die gemeenskap om vandalisme van alle infrastruktuur te voorkom wat ‘n groot probleem by Gwaiing is.
"Ons wys ook uit dat die sementoprit wat in die water ingaan nie weer vervang mag word nie. Die betrokke Wes-Kaapse departement laat ingevolge wetgewing geensins meer strukture in die water toe wat deur golwe beskadig kan word en gevolglik ‘n veiligheids- en omgewings risiko mag inhou nie."
IN SHORT: A meeting about the infrastructure at Gwaing-rivermoouth will possibly be held early in the new year. The Gwaing Action group is unhappy about the infrastructure and had contact with the George municipality. They are unhappy with the answers and has asked for a meeting. The municipality has indicated that they are prepared to have a another meeting with the Gwaing Action Group and the community.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'