Gallery
GEORGE NUUS - Oewerstraat in Denneoord se beroemde Kersfeesliggies word vanjaar weer aangeskakel en word opgedra aan een van die straat se geliefde jong inwoners, Jana Human (7). Jana het leukemie en ontvang op die oomblik behandeling in die Rooikruis-kinderhospitaal in die Kaap.
Die formele aanskakeling van die liggies is Saterdagaand, 11 Desember. Inwoners van die straat sal van 19:00 bymekaarkom om eers ’n braai te hou en daarna sal die formele aanskakeling plaasvind.
Die liggies is nie verlede Desember aangeskakel nie, omdat inwoners van die straat tydens 'n vergadering eenparig besluit het om weens die Covid-19-situasie nie liggies aan te skakel nie.
Fotogalery: Kersfeesliggies weer dié jaar in Oewerstraat
Niel du Plessis, wat die eerste keer in 2002 sy liggies aangebring het, het Maandag aan George Herald gesê sowat 90% van die huise in die straat is vanjaar betrokke.
Van die liggies in Oewerstraat.
Liggies vir Jana
Die Humans en die Du Plessis-familie is bure. Petro Human, Jana se ma, het gesê dit is wonderlik dat die liggies vanjaar aan hul dogter opgedra word. Hulle is verheug. "Ons het baie hulp en steun uit die gemeenskap ontvang."
Hulle gaan op die oomblik tuis by haar skoonouers in Brackenfell. Haar skoonouers se hondjie, Riley pas Jana heeldag op. Riley wil Jana nie los nie. Wanneer Jana hospitaal toe moet gaan, lê Riley heeldag op Jana se kussing. (Lees 'n brief hier)
Jana Human (7) saam met haar ouma-hulle se hondjie, Riley.
Welkom, maar bly veilig
Mense is welkom om na die liggies te kom kyk. Hulle moet net die Covid-19-regulasies handhaaf soos byvoorbeeld maskers dra, sosiale afstande handhaaf en nie aan die liggies vat nie.
Die liggies word gewoonlik om 19:30 aangeskakel en sal dan weer om 22:30 afgeskakel word. As dit reën, sal dit nie aangeskakel word nie.
Twee jong entrepreneurs van Oewerstraat, Lara Rossouw en Frans Labuschagne het hul eie stalletjie waar hul snuisterye verkoop.
Entrepreneurs
Ng 'n inwoner Colette Rossouw, het gesê die inwoners beplan om op een van die aande, draairoomys te verkoop en daardie geld sal ten bate van Jana wees.
Ander entrepreneurs is twee jong inwoners, Lara Rossouw en Frans Labuschagne met hul eie stalletjie waar hulle snuisterye gaan verkoop.
Daar is ook 'n posbus vir Kersvader by een van die huise aangebring.
Van die snuisterye wat in Oewerstraat verkoop word,
Waar kom Oewerstraat se liggies vandaan?
Oewerstraat aan die voet van die Outeniquaberge is gewoonlik dié tyd van die jaar, een van die besigste strate in George. Elke aand word die straat in 'n sprokieswêreld omskep en het al besoekers van oor die land gelok.
Die liggies het 'n tradisie geword en kom 'n lang pad. Niel du Plessis, 'n inwoner van die straat, het die eerste keer in 2002 liggies aangebring. Sy pa-hulle het destyds toe hulle na Brenton-on-Sea by Knysna verhuis het, vir hom liggies gegee.
Du Plessis het die liggies by sy huis aangebring. Van die ander mense in die straat het dit raakgesien en ook liggies begin aanbring. Aanvanklik was alles op klein skaal, maar dit het oor die jare uitgebrei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'