SUID-KAAP NUUS - Na vele internasionale prestasies, is ‘n splinternuwe jeugkoor gestig om seniorlede, oudlede en talentvolle sangers tussen die ouderdomme van 18 tot 25 jaar, van alle gemeenskappe in die Suid-Kaap die geleentheid te gee om op internasionale vlak op te tree.
Die koor se dirigent, Jan-Erik Swart, meen dat streekkinderkore die eerste tree in die voedingsbronproses na universiteitskoordeelname is.
"Sonder ‘n streekjeugkoor, kan talentvolle jeugsangers nie verder ontwikkel om by ‘n universiteitskoor aanvaar te word nie.
"Suid-Afrikaanse universiteitskore is van die beste ter wêreld, en daarom is streekjeugkore van kardinale belang om Suid-Afrikaanse koorkuns te bevorder.
"Die Suid-Kaap Jeugkoor word self deur die lede bestuur, en het reeds ‘n suksesvolle vakansiekamp in Knysna agter die rug, waartydens hulle ‘n program van hoog tegniese en kontemporêre liedere vir kompetisies en konsertoptredes voorberei het," vertel Jan-Erik.
Die lede het self hul koordrag ontwerp en hulle oefen elke Woensdagmiddag van 16:00 tot 18:00 by Glenwood House se musiekakademie saam met Jan-Erik Swart.
Tydens 2018 gaan die jeugkoor aan verskeie kompetisies deelneem, naweektoere onderneem en hulle voorberei om ‘n internasionale konserttoer na Europa van stapel te stuur.
Belangstellende soprane, alte, tenore en basse tussen die ouderdomme van 18 tot 25 word genooi om Jan-Erik Swart by 084 645 9320 vir oudisies te kontak.
* The award-winning South Cape Children's Choir which has a highly successful track record with performances both here and abroad - is once again embarking on its annual recruitment drive as some of the senior members have left to further their studies. Children with talent are invited to contact Jan-Erik Swart at 084 645 9320 to arrange for an audition.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'