Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit was alte jolig by Heidedal Primêr tydens 'n besoek van die nasionale minister van sport en kultuur, Gayton McKenzie.
McKenzie en sy personeel het Dinsdag 20 Januarie al die aandag geniet met die opening van 'n splinternuwe multisport-fasiliteit by die skool.
Die leerders het 'n erewag gevorm en hom met 'n groot gejuig gegroet.
Die sportfasiliteit is netjies omhein en bied leerders van tien omliggende skole in die gemeenskap die geleentheid om netbal, sokker en vlugbal te speel.
McKenzie se plan is om tientalle sulke bane by skole op te rig. Sy visier is volgende op skole in Thembalethu.
Hy het die belangrike rol van sport onderstreep en glo dit hou kinders uit die moeilikheid.
Heidedal Primêr se skoolhoof, Dudley Schoeman, het gesê die gemeenskap sal eienaarskap van die fasiliteit neem.
"Dit is 'n trots vir die gemeenskap," het hy gesê.
VIDEO - Nuwe sportbaan bring hoop vir leerders: Gayton McKenzie by Heidedal Primêr
McKenzie se besoek het goed saamgeval met die tussenverkiesings wat gister in Conville en Pacaltsdorp plaasgevind het.
Hy het gesê hy het verseker die geleentheid gebruik om sy mense te sien, maar dat die sportfasiliteit nie polities gedrewe is nie - wel iets kosbaar vir die mense van die gemeenskap.
McKenzie het gesê hy sal nie die tussen-verkiesing kan bywoon nie, want hy was reeds Dinsdagaand op pad na Mexico.
Gayton McKenzie oorhandig sporttoerusting aan Cheveronica Kamfer van Pacaltsdorp Primêr. Saam met haar is skoolhoof Edwin Manuel (regs) en Ethan du Plessis. Hulle word vergesel deur New Dawn Park Primêr se skoolhoof, Francois Visagie (agter), en een van hulle leerders. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’