GEORGE NUUS - 'n Klompie Christelike skrywers wat self gepubliseer het, was Saterdagoggend byeen by The Table Coffee and Books om nuwe boeke bekend te stel.
Die geleentheid is ook bygewoon deur voornemende skrywers vir wie daar 'n inligtingsessie gehou is oor selfpublikasie.
Dit is aangebied deur George-skrywer Anneline Bezuidenhout, stigter van Sela, 'n mede-uitgewer wat skrywers help om self te publiseer.
Hierdie was die tweede geleentheid van hierdie aard wat Bezuidenhout (wat skryf onder die naam Anneline de Hout) op plaaslike bodem aanbied. Verlede jaar in November het 'n paar skrywers by haar eerste sessie gedebuteer en die belangstelling het sedertdien stadig maar seker gegroei.
Saterdag is twee plaaslike skrywers, Ockie Taylor en Carin Conradie, asook 'n skrywer van Port Elizabeth en twee uit die Kaap, se boeke bekendgestel.
Taylor, 'n afgetrede pastoor van Soteria-gemeente se boek, Beoefen die teenwoordigheid van die Heilige Gees, kyk onder meer na wat ander skrywers oor die Heilige Gees sê voordat dit 'n wye verskeidenheid van aspekte rondom die Heilige Gees ondersoek.
Taylor brei uit oor wat dit beteken om te lewe deur die Gees, hoe jy die Heilige Gees leer ken, die Heilige Gees en klein kindertjies, die Heilige Gees in die Ou Testament, die gewete van die mens, en talle ander onderwerpe rondom die Gees.
Volgens Bezuidenhout is die eerste oplaag van Taylor se boek nog nie 'n maand oud nie, en hy moes reeds 'n tweede bestelling plaas.
Vir kinders
Carin Conradie se kinderboek, Stories van Jesus, vertel stories uit die vier Evangelies. Die storievertellers is Tannie Carin en haar marionet-maatjie, Tobias.
Die stories word in dialoogformaat tussen dié twee vertel. Die leser kan per QR-kode na 'n opname van die storie luister terwyl hulle dit in die boek volg.
Daar is 61 stories van Jesus in die boek wat in A4-grootte gedruk is. Elkeen is kleurvol geïllustreer deur Sarah-Lee van Aswegen.
Anneline Bezuidenhout van Sela (naaslinks) by die skrywers wie se boeke Saterdag bekendgestel is, van links: Ockie Taylor, Kirsten Rossiter, Lynette Strydom, Carin Conradie en Julaine Marais.
Uit die Kaap en Gqeberha
Julaine Marais van die Kaap, wat in November verlede jaar Protected Living - Psalm 91 hier in George bekendgestel het, was terug met 'n nuwe boek, getiteld Victorious - fully prepared. Dit gaan oor die wapenrusting wat in Efesiërs 6 beskryf word.
Die boek neem die leser verby die uiterlike voorkoms van wapenrusting en gee 'n perspektief vanuit die vegter se oogpunt om hom/haar aan te moedig om die duike en gate in sy/haar gevegsuitrusting te herstel.
"Die boek is 'n studie van die wapens wat God ons gegee het sodat ons sterk kan staan as soldate wat ten volle gereed is vir die gevegte wat oor ons pad kom," het Marais gesê.
Ook uit die Kaap was Kirsten Rossiter met haar boek, Building the nations from the ground up, waarin sy die rol van die kerk beskryf as die kern van wêreldgebeure wat tans ontvou. Sy ondersoek die plek van die kerk op die tydlyn van die geskiedenis, die roeping van die kerk, en hoe die kerk sy doel kan bereik om wêreldwye transformasie en hervorming teweeg te bring.
Lynette Strydom van Gqeberha se Briewe uit my hart is gebore uit haar liefde om haar ervarings en gedagtes neer te skryf en in hierdie boek deel sy haar lief en leed met fyn humor. Deur haar briewe laat sy die leser met nuwe oë na die lewe kyk.
Van haar kortverhale en briewe is al in tydskrifte gepubliseer en die boek is 'n droom bewaarheid.
Skrywers wat meer wil uitvind oor selfpublikasie, kan Anneline Bezuidenhout kontak by 082 563 4407.
Kirsten Rossiter (links) gesels oor haar boek, 'Building the nations from the ground up'. Die boek wys aan gelowiges hoe om 'n impetus van verandering te wees in hul eie omgewing. Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'