Gallery
GEORGE NUUS - Carpe Diem Skool het verlede week verskeie nuwe leerders verwelkom. Hierdie was 'n betekenisvolle oomblik vir kinders wat in baie gevalle al jare lank op 'n geskikte skoolplasing gewag het.
Weens die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) se verwysingsproses en die aard van leerders se gestremdhede, neem Carpe Diem Skool nie noodwendig gr. 1-leerders op soos hoofstroomskole nie.
Sommige van die nuwe leerders was nog nooit voorheen in 'n skool nie, terwyl ander eers in die hoofstroomonderwys was voordat hulle na Carpe Diem verwys is.
Die skool bestaan uit verskillende fases en afdelings.
Die groep wat verlede week begin het, bestaan uit 47 dagleerders. Nege nuwe koshuisleerders het vandeesweek by die groep aangesluit, terwyl 24 leerders gedurende Februarie deel sal word van die skool se nuwe PID-eenheid (Profound Intellectual Disability).
Carpe Diem Skool se fokus vir 2026 is uniekheid. Soos 'n sebra se strepe - geen twee ooit dieselfde nie - word elke leerder se individualiteit gevier.
Die skool glo in die belangrikheid van 'behoort': verskillende strepe, een trop, een gemeenskap.
Nuwe leerders by Carpe Diem Skool kry 'n warm ontvangs.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’