GEORGE NUUS - Leerders en onderwysers van Carpe Diem skool is in die wolke met hul splinternuwe klaskamers wat na ’n verwoestende brand verlede jaar ten volle herbou is.
Twee groot klaskamers en ’n aantal kleiner kamers is heeltemal vernietig terwyl ’n ander waterskade opgedoen het weens die brandbestrydingspogings.
Dié voorval in die vroeë oggendure van 6 Februarie 2024 sal skoolhoof Elzeth Grobler altyd bybly.
Vrydag 25 April was egter ’n dag van feesvier, want dit was die amptelike lintknipseremonie vir die nuwe klaskamers.
Buiten die klaskamers is ’n hele nuwe gebou vir kinders met ASD (Autism Syndrome Disorder) en LSPID (learners with severe to profound intellectual disabilities) opgerig. Die hele projek is deur die Wes-Kaapse departement van onderwys gefinansier.
Carpies het gaste vermaak met koorsang en ’n optrede van hul Marimba-orkes. Die kinders het veral vreugde geput uit ’n kleurverf-pretstap, waar leerders met verf gedruk of gegooi is terwyl hulle om die skool loop.
Kinders met outisme het byvoorbeeld verkies om net ’n handafdruk op hulle T-hemde te kry.
Ralph Lindoor, Elzeth Grobler, Hannes May en Rocky. Foto's Michelle Pienaar
In haar toespraak het Grobler gesê wanneer jy bou, moet jy geloof hê, en daarna moet jy geduld hê. “En dan, al wat jy kan doen, is om te begin bid.”
Sy het ’n skietgebed opgestuur nadat sy die nuus verlede jaar ontvang het dat haar skool aan die brand is.
Ralph Lindoor van die departement van korrektiewe dienste het gaan ondersoek instel toe een van hul honde, Rocky, onophoudelik begin blaf het.
Hy het daarna alarm gemaak en almal laat weet van die brand.
Beide Lindoor, Rocky en Rocky se hanteerder, Hannes May, het die verrigtinge bygewoon, saam met ander verteenwoordigers van die departement.
Ander eregaste sluit in WKOD se distriksdirekteur, Jewel Jonkers, en kringbestuurder (kring 8) Gerhard Ackerman. “Elke kind verdien ’n geleentheid. ’n Dag soos vandag getuig daarvan,” het Jonkers gesê. “Ek was daar, die oggend na die brand, en nou weer. Ek staan hier met dankbaarheid en diep hoop vir die toekoms.”
Carpies het gaste vermaak met koorsang.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’