Gallery Video
GEORGE NUUS - Dinsdag was dag 14 van ons Nuts & Bolts-toer om die land se rand nadat ons op 9 Oktober in George weggespring het, Ooskus langs. Dinsdag was ook ons tweede R & R-dag ... Rest & Repair.
Ons eindpunt is Agulhas wat ons hoop om komende Saterdag te bereik. Ons doel: om fondse in te samel vir Choc (Children Living with Cancer), UCPA (United Cerebral Palsy Association), Smile Foundation (vir kinders met gesigsabnormaliteite) en Goldilocks and the Bear Foundation (wat op geestesgesondheid fokus).
Terug na ons reis. Ons eerste rusdag was in Sodwana waar elkeen hom- of haarself vermaak het met aktiwiteite soos snorkel, bootry, dolfyne-kyk, quads-ry, en spabesoek.
Aangesien daar Dinsdag ook nie enige reparasies was nie, is baie van ons die wildtuin in om luiperds te soek, en party gevind het hulle gevind. Daarna het die manne groot gespeel op Hakskeenpan so 'n paar kilometers van ons blyplek af. Ons het oorgeslaap by die Kalahari Info Centre net 3km van die Namibiese grens af.
Vandag is ons vertrek op pad na die Augrabies-watervalle waar ons gaan oornag. Dan is dit net nog Port Nolloth en Clanwilliam toe voor die laaste stuk na Agulhas.
Op Haksteekpan.
Met nog 4 dae en rondom 1 700km oor, is ons steeds vêr van ons mikpunt af. Die bank staan tans op R280 ooo en dan is daar nog 'n paar beloftes wat moet inkom. Daar word ook items opgeveil soos ons ry. Een skildery wat ons eie Alicia help maak het, is nou opgeveil vir R11 000. Bieërs is nog besig met 'n bottel witblits wat nou al by R5 000 staan.
Op dag 4 het ons by Taso's in Ballitobaai die Beetle Maniacs ontmoet wat 'n bydrae gemaak het en dag 14 het die Steel Wings-motorfietse ons kom verras by Berit-gastehuis. Hulle het 'n bedrag van R10 000 geskenk en ook die ander klubs uitgedaag om die bedrag te ewenaar of te oorskry. Intussen kry ons oral mense wat geld in ons varkies sit en dit moet nog getel word.
Die paaie is relatief in 'n goeie toestand. Selfs deur die Transkei waar die N2 groot opgegradeer word was dit, behalwe vir die tientalle trokke, nie sleg nie. Die stuk pad deur Alldays was egter 'n ander storie. Dit het ons 'n goeie deel van die dag geneem want daar was amper geen teer meer oor op die teerpad nie.
Ons kry konstant baie diere langs die pad en moet ons maar wakker wees en heeltyd uitkyk vir donkies, skape, beeste, en bokke wat oor en in die pad loop. Een Nutter het verwys na die diere as organiese robots. Behalwe twee persone wat deur 'n spinnekop gebyt is, is almal gesond en loop die moraal hoog. Nuwe, hegte vriendskappe word gevorm en almal kyk uit vir mekaar.
FOTOGALERY: Rondom die land in ou motors vir 'n goeie doel
Die damespan van George - Yolandé en Nadia - wat met Strepie gery het, het Sondagaand die kar aan Tommy en Sas oorhandig en is terug George toe as gevolg van verpligtinge wat wag.
Jan en Nettie met 'n groen kombi, Ertjiepit, van Bredasdorp moes ook Maandagoggend uittree as gevolg van werksverpligtinge.
Komende Saterdag gaan 'n groep ou trekkers in Wellington by ons aansluit en 'n ent saam met ons ry. Ons verwag ook dat van die Nutters wat nie die tog kon meemaak nie, Saterdag by ons gaan aansluit en die laaste kilometers saam met ons gaan ry.
Die mascot, Frikkie die geraamte, het so gewild geraak dat hy nou sy eie Facebookblad het. Hy doen elke dag iets en die mense is mal daaroor. Hulle vra vinnig as hy vir 'n halwe dag niks van hom laat hoor het nie.
Rusplek in die Kalaharisand.
Vanselfsprekend breek ou goed makliker as nuwes en alhoewel die deelnemers vooraf alles in hul vermoë gedoen het om staantyd te verhoed of tot die minimum te beperk, gebeur die onvoorsiene. Ons het egter nog nie afgewyk van ons skedule nie en - al was dit laataand - het ons nog elke aand op die beplande plekke oornag.
Dag 1:
Vivian en Lorraine se Chevvie verloor 'n wiel kompleet met as en al, net voor Sedgefield, en dié vlieg bo-oor 'n aankomende motor. Hy word ingesleep en in Knysna herstel. 'n Nuwe as word bestel en op dag 11 by Berit-gastehuis ingesit. Herman en Lynette se Bussie-nes kry 'n pap wiel.
Dag 2:
Chief Nutter Pieter se Bat blaas 'n "head gasket" en 'n nuwe een word ingesit op die parkeerterrein by 'n vulstasie.
Dieselfde gebeur op dieselfde tyd met Morne se geel Mieliepit en dié word 'n ent verder af in die pad herstel.
Dag 3:
Top Red Nissan van Helgaard en Hanlie bars 'n waterpyp net buite Keimond en Jean en Carlene van Mosselbaai se kombi, Koffiepot, ondervind elektriese probleme.
Dag4:
Die dames se Strepie asook Jurie en Dennis se Ford, Bubblegum, se vonkverdeler gee probleme.
Dag 6:
Jaco en Esmie se Cressida, Undertaker, se waterpyp begin lek. Francois se Beetle se sleutel smelt in die aansitter vas as gevolg van 'n bedradingprobleem en die neuskap moet elke keer oopgemaak word om die kar aan en af te skakel. Morne se Mieliepit begin ernstige probleme ontwikkel. Koffiepot se ratkas begin erge geraas maak.
Dag 7:
Mieliepit word om 7:15 amptelik dood verklaar en word daar gereël vir 'n insleepvoertuig om hom huis toe te neem. Nadat ons die wildtuin in is, moes Celvin en Ian met hulle Groenes 'n belangrike keuse maak: slaap in die kar of vat 'n kans en klim uit. Noodgedwonge moes hulle hul bangwees om naby leeus uit te klim oorkom om hulle vonkverdeler te herstel. Renier en Vicky met Alicia se Chev se knormoer pak op en hy word vir twee dae lank aan die brand gestoot voor dit 2 dae later vervang word.
Mieliepit het opgegee.
Dag 9:
Koffiepot loop op beantwoorde gebede.
Dag 10:
Die Alldays pad skud skroewe en boute los waar mens nie geweet het daar is nie. Ian en Celvin se skokbrekers gee in.
Morne sluit weer by ons aan met Mieliepit se opvolger, Springmielie wat vol onderdele gelaai is vir stukkende voertuie.
Dag 11:
Koffiepot se ratkas word gediagnoseer as oppiekoffie en met 'n rondbellery word 'n nuwe ratkas opgespoor en word deur ons gasheer by Berit Lodge, in Pretoria gehaal. Hy keer na middernag terug met die nuwe ratkas.
Dag 12:
Koffiepot struikel heeldag agter Springmielie aan wat die nuwe ratkas vervoer. Die aand vind die ratkasoorplanting plaas.
Dag 13:
Die Bat verloor die roete en eindig op in Postmasburg op pad na Kgalagadi. Hy raak toe uit brandstof soos hy sy pad probeer terug vind. Gelukkig was 'n mede-Nutter naby met 'n kannetjie petrol...
Die Undertaker se waterpyp bars finaal en onderdele word in Upington gekry. Die een Chevvie se as begin olie lek. Koffiepot kry 'n nuwe aansluiter nadat syne oppak.
Tot en met Dinsdag was daar in totaal 3 dae geen probleme nie. Of moet ek sê geen uitdagings nie... want sien, alle breke word iewers langs die pad herstel met mede-Nutters se hulp, raad en bystand. Niemand word agtergelaat nie want ons is saam in hierdie ding en ons sal saam klaarmaak.
'n Ruskans vir ou wiele.
VIDEO
Verwante artikels:
17 jalopies take on 6 450km journey
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’