Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Dit is tyd dat inwoners van George saamstaan om die gesogte titel, Kwêla Dorp van die Jaar te wen.
Waar in George kry jy die lekkerste gebak? Is dit die een dorp in die land waar jy altyd sal tuis voel as jy in die strate ry? Hoeveel skatte lê versteek in jou gemeenskap? Is jou gunsteling slaghuis die beste in die land? Wat is juwele in die dorp waarop jy trots is?
Benoem nou vir George as jou gunsteling dorp en staan ’n kans om met die dorp en ons mense te spog!
Nonimasies sluit komende Vrydag, 15 Maart om 12:00 die middag, so SMS die woord GEORGE na 33157 sommer nou.
Vra ook al jou vriende en familie om George te nomineer. ‘n SMS kos R1,50. Die plaaslike poging word gedryf deur George-munisipaliteit se toerisme departement met die heelhartige ondersteuning van George Herald.
George sal kragte meet met dorpe in Suid-Afrika of Namibië met minder as 500 000 inwoners wat nie ’n streekswenner in die laaste twee jaar was nie.
Uit elke streek sal die drie dorpe met die meeste benoemings deurdring na die semi-finale rondte op 14, 21 en 28 April.
Hier kry mens vir ‘n week lank elke rondte ’n geleentheid om vir jou gunsteling-dorp uit die drie semi-finaliste uit elke streek te stem. Die rondte laat net 30 sms’e per selfoonnommer toe. Die dorp met die meeste stemme sal die kompetisie-streek as hul finalis-dorp in die finale rondte verteenwoordig.
Kwêla sal ’n insetsel op elk van die nege dorpe wat die finale rondte gehaal het kom verfilm en wanneer al nege dorpe op Kwêla gewys is, sal die publiek vir sowat vyf dae, van 19:00 op 14 Julie tot 12:00 die middag, 19 Julie, vir hul wendorp kan stem.
Die wendorp word op 28 Julie op Kwêla aangekondig. Die Dorp van die Jaar wen R1 miljoen se bemarkingswaarde van Kyknet en Lottoland skenk 'n R1 miljoen kontantprys om in die dorp terug te ploeg en wat deur hulle geoudit sal word.
Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal ’n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook ’n groot opskop in die wendorp gehou word - musiek, kos, pret en sommer baie van daai wendorp-gees! Kwêla sal weer daar wees om dit te verfilm, en dit sal later die jaar uitgesaai word.
Lottoland het ook ‘n nog 'n verrassing vir die wendorp, wat aangekondig sal word.
Mense wat meer inligting wil hê of groter ondersteuning aan die veldtog wil verleen, kan George-munisipaliteit se toerismebestuurder, Joan Shaw kontak by jshaw@george.gov.za.
Vorige artikel: Show the country that George is the best
VIDEO:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’