GEORGE NUUS - 'n Tienerseun (17) van Pacaltsdorp, wat wreed deur 'n groep mans aangerand is, wag steeds op geregtigheid, terwyl sy aanvallers nog nie in hegtenis geneem is nie.
Sy ouers het hulle tot George Herald gewend in die hoop dat iemand met inligting oor die voorval na vore sal kom. Die aanval het kort na middernag op 27 Julie, naby die hoek van Beachweg en Missionstraat plaasgevind.
Die seun, wie se identiteit weerhou word omdat hy 'n minderjarige is, was saam met 'n groep vriende op pad huis toe nadat hulle die aand by 'n vriendin in Dellville Park gekuier het.
Hulle het voor middernag begin stap, en sommige van die seuns het by 'n koswaentjie voor 'n kuierplek in Beachweg gestop om worsrolletjies te koop. Die seun het egter alleen aanhou stap.
Volgens sy ma het hy 'n groep van vier mans gesien wat 'n ander persoon aangerand het. Hy het eers gestop en die situasie dopgehou, maar toe verder geloop toe die persoon weggehardloop het. Een van die mans het hom voor die bors gegryp en hom gevra of hy deel is van die groep.
Toe hy dit ontken, het die man hom in sy gesig geslaan, waarna die groep hom genadeloos begin pak het. Hy is op die grond gegooi, geskop, met die vuis geslaan, en selfs met die gespe van 'n belt geslaan wat 'n gat in sy kop veroorsaak het.
Sy ribbes is gekneus en sy neusbeen gebreek.
Nadat die aanvallers rustig weggeloop het, het die seun bebloed huis toe gesukkel, vanwaar hy onmiddellik na die hospitaal geneem is.
Hy moes 'n operasie vir sy kopbesering ondergaan en het twee dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring. Hy het eers verlede week teruggekeer skool toe.
"Ons is ongelooflik dankbaar dat hy oorleef het, dinge kon baie erger gewees het. Die skuldiges moet opgespoor word, en ons doen 'n beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom," het sy ma gesê.
Sers. Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê hulle ondersoek 'n saak van ernstige aanranding.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die ondersoekbeampte, adjudant-offisier Frik van Aswegen skakel by 044 803 9131 of die StopMisdaad-nommer, 08600 10111.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’