Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Toe Annétia Heckroodt van George in Januarie 2022 vroeg op 'n Maandagoggend saam met haar man by Kaaimanshoogte gaan stap het, kon sy nie voorsien watter nagmerrie op haar wag nie.
Terwyl hulle gestap het, het sy voor in die pad 'n gestreepte veldmuis gesien wat al in die rondte sy stert gejaag het.
Sy het so ewe gedink die muis voer 'n unieke dans uit. Sy het 'n video geneem om vir hul kleinkinders die mooi rondtollende muisie te wys.
Soos sy met haar foon nader aan die muis beweeg het, het haar sakdoek op die grond geval. Met die bukslag om dit op te tel, spring die muis op haar hand en byt haar aan die punt van haar pinkie, spring toe af en verdwyn tussen die bosse.
Volgens haar was dit nogal 'n skerp prik met gevolglike brandpyn. By die huis gekom, het sy die vinger lank onder lopende water afgespoel. Sy het nie veel aggeslaan op die klein bytmerk nie. Na vier dae en verskeie terugvoering van vriende en familie ter waarskuwing van 'n moontlikheid dat die muis hondsdolheid het, het sy twee veeartse geraadpleeg en die video aangestuur.
Video's is toe oor en weer gestuur om haar te oortuig dat daar 'n moontlikheid is dat die muis hondsdolheid het. Hulle het ook genoem dat gestreepte veldmuise nie geneig is tot hondsdolheid nie.
VERSKAFDE VIDEO - Die veldmuis wat Annétia Heckroodt gebyt het:
Die vyfde dag, Vrydag, het sy na aanbeveling van haar mediese dokter na ongevalle by Mediclinic George gegaan. Daar was die dokter baie verbaas dat sy so lank gewag het en die implikasies daarvan aan haar uitgewys, dat indien daar nie betyds behandeling toegepas word nie, dit dodelik kan wees.
Op daardie laat stadium, moes hy sekere middels toedien deur middel van talle inspuitings, wat baie pynlik was, asook 'n entstof. Entstof teen hondsdolheid is daarna met intervalle toegedien.
Sy het aan George Herald gesê dit was alles 'n groot skok, maar die einde was nie in sig nie. Sy moes die mediese koste, wat meer as R5 000 beloop het verhaal.
Heckroodt se hand en arm 'n paar dae nadat sy gebyt is.
Stryd met mediese fonds
Toe het die stryd begin om die kostes van haar mediese fonds, GEMS te verhaal. Sy is by die mediese fonds van bakboord na stuurboord gestuur. Verskeie e-posse is gestuur en telefoonoproepe is gemaak - sonder sukses.
Dis 18 maande later en nog steeds is die saak nie opgelos nie. Sy het juis weer onlangs met die mediese fonds kontak gemaak en daar is aan haar meegedeel dat die middels vir hondsdolheid uitgesluit is.
Volgens haar voer die mediese fonds aan daar is 'n uitsluitingsklousule (Category 35 Scheme Exclusion) en sy moes eers 'n reeks inspuitings gekry het. Sy aanvaar dit nie en neem nou die aangeleentheid na die ombudsman vir mediese fondse.
"Die vraag kan tereg gevra word, waarom word behandeling vir hondsdolheid uitgesluit? Geld die uitsluiting ook vir slangbyt? Die les wat uit hierdie insident te leer is, is dat as 'n dier 'n ongewone gedragspatroon openbaar, daar 'n groot moontlikheid van hondsdolheid kan wees. Daar moet dadelik opgetree word en 'n hondsdolheid entstof moet geadministreer word," het sy gesê. Sy was baie gelukkig om die gebeure te kon oorleef.
George Herald het sedert Vrydag 29 September verskeie pogings aangewend om kommentaar van GEMS te kry. Die koerant is Dinsdagmiddag deur GEMS meegedeel dat 'n klagte na die klagte-afdeling gestuur moet word.
Later die middag het GEMS gereageer. Ontvangs van die klagte is bevestig. GEMS het onderneem om 'n behoorlike ondersoek te doen en binne sewe werksdae terugvoering te gee.
Annétia Heckroodt
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’