GEORGE NUUS - ’n Veeboerdery wat al vir ’n paar jaar in ’n residensiële gebied in New Dawnpark, Pacaltsdorp, bedryf word, het die goeie verhouding tussen twee buurmanne erg versuur.
Tydens George Herald se besoek aan die area het die gevoelens tydens ’n gesprek met die twee hoog geloop.
Die vee word op munisipale grond aangehou wat grens aan eiendomme in Loeriesingel waar hulle woon. Michael Kerspuy kla dat sy buurman, Pieter Jonck, se boerdery vlieë lok en tot onaangename reuke lei.
Kerspuy en sy vrou het vir ’n aantal jaar hul huis verhuur terwyl hulle elders gewoon het en was ongelukkig toe hulle met hul terugkeer die boerdery daar vind. Hy het hom verskeie kere gewend tot die George-munisipaliteit se wetstoepassings- en omgewsingsakeafdelings, maar sê daar word niks aan die situasie gedoen nie.
“Dis mos nie reg om in ’n dorp te boer nie. Dis hier reg by ons huise en dis onhigiënies. Ek het al vier keer by wetstoepassing gekla en hier was een keer ’n beampte, maar hy het net met die boere gepraat en nie ons kant van die saak gevra nie. Intussen gaan die boerdery net voort. Die wyksraadslid weet ook van die klagte.”
Jonck sê hulle is ’n groepie boere wat saam ’n ooreenkoms met die navorsingsplaas buite George het en hulle boer al ’n klompie jare daar sonder probleme of klagtes van bure. Hulle beeste loop los in die veld en van die kleiner vee - skape en bokke - word in kampe teenaan Jonck se eiendom aangehou.
Nadat die koerant verlede week ’n navraag aan die munisipaliteit gestuur het, het die senior kommunikasiebeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, vandeesweek bevestig dat die diere op munisipale eiendom aangehou word.
“Spanne van ons afdeling vir omgewingsgesondheid en teengrondbesetting het die perseel geïnspekteer en werk tans saam met ons regsafdeling aan ’n weg vorentoe. Dit sluit in verdere ondersoeke, wat kan lei tot die verwydering van die kamp.
"Ons verseker inwoners dat die munisipaliteit hierdie aangeleentheid in ’n ernstige lig beskou en sal voortgaan om die situasie te monitor totdat dit opgelos is.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’