GEORGE NUUS - Herstelwerk aan die historiese Montagupas is volstoom aan die gang. Die pas, wat al meer as 'n jaar lank tydelik gesluit is, het groot frustrasie veroorsaak weens onbegaanbaarheid as gevolg van vloed- en reënskade.
George-toerisme en sakeondernemings in Herold is benadeel en dit het ook 'n impak op die historiese tolhuis aan die suidekant in die Montagupas.
Jandré Bakker van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, het Maandag
18 Maart gesê basiese herstelwerk aan die pas het 'n maand gelede, op 19 Februarie begin. 'n Volledige herstel/herbou is hulpbronafhanklik.
Die basiese herstelwerk/nood-onderhoud word gedoen ten einde verkeersvloei te bewerkstellig. Omdat die werk deur onderhoudspanne gedoen word, word die koste nie van die gewone onderhoudsbegroting geskei nie.
"Die werk word oorsien deur die distrikspadingenieur van die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur en uitgevoer deur die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TRDM)," het Bakker gesê.
"Die TRDM doen die werk ingevolge 'n agentskapooreenkoms."
Omdat die werk deur die interne span en TRDM gedoen word, word dit as intern beskou en sal hanteer word soos wat hulpbronne beskikbaar is.
"Op hierdie stadium word alles in die stryd gewerp om dit teen einde Mei 2024 voltooi te hê.
"Dit is belangrik om te onthou dat hierdie herstelwerk op enige stadium gestaak kan word indien hoër prioriteite op ander dele van die padnetwerk identifiseer word - byvoorbeeld 'n noodgeval tydens 'n onvoorsiene natuurverskynsel soos 'n wolkbreuk wat tot vloede kan lei.
"Daarom moet die einddatum nie as 'n definitiewe beskou word nie," het Bakker gesê.
Van die toerusting wat gebruik word om basiese herstelwerk aan die Montagupas te doen. Foto: Eugene Gunning
Bakker het benadruk dat hierdie slegs minimale en absolute noodsaaklike herstelwerk is. "Dit is dus nie herkonstruksie of hernuwing van die roete nie. Verder is dit 'n konstruksieperseel en ons pleit dat die publiek daarop ag slaan dat die pad gesluit is. Dit is gesluit vir alle padgebruikers, wat fietsryers, stappers, motorfietsryers en ander insluit."
Willie John van Niekerk, voorsitter van die George Erfenistrust, en Gerda Stols van die Vriende van die Tolhuis, het die jongste verwikkeling verwelkom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’