GEORGE NUUS - 'n Oggend van deel en omgee is Vrydag by die Rosemoor Tehuis vir Bejaardes aangebied toe lede van die Blanco se Vroue-landbouvereniging die vroulike inwoners van die tehuis met 'n koek en tee-funksie vir Moedersdag bederf het.
Die VLV-vroue het gereël vir 'n inspirerende program met musieknommers en 'n praatjie deur Dellvillepark Primêr se hoof, Robert Grootboom.
Hy het die vroue uit Jeremia 29:11 bemoedig en hulle aangemoedig om dankbaar te wees en ten spyte van hul bejaardheid, te soek vir geleenthede om uit te reik na mede-inwoners wat swakker is en hulp nodig het.
"Maak 'n verskil en streef daarna om blydskap te verskaf in iemand anders se lewe," het hy gesê.
VLV-voorsitter Marietjie Schaaff, het gesê die tema van hulle 2025-jaarprojek is, Bejaardes maak saak.
Sy het benadruk dat hulle vir die bejaardes omgee en het die hoof van die tehuis, suster Charmain Titus en haar personeel geprys vir hulle toewyding en die manier waarop hulle die inwoners versorg. "Die onbaatsugtige saad wat julle saai, sal julle nog oes," het sy gesê.
'n Roerende sangnommer, On my knees is gelewer deur Vanessa Africa en Peet Terblanche het 'n paar vrolike nommers met sy kitaar en bekfluitjie opgetower.
Heerlike eetgoed is vir gaste voorgesit en elkeen het 'n klein geskenkpakkie ontvang. Vroetel-voorskote vir inwoners met demen-sie wat Schaaff gemaak het, is ook aan vier inwoners oorhandig.
Alice Burts van die Blanco VLV by van die bejaardes, van links: Annie Stroebel, Jeanette Schoeman, Helen Olson en Annie Blaauw.
Van die inwoners wat deel was van die oggend.
Robert Grootboom bring ’n bemoedigende boodskap.
Vanessa Africa lewer 'n sangnommer.
Peet Terblanche het vrolike musiek op sy kitaar en bekfluitjie gemaak.
Voor is inwoners van die Rosemoor-tehuis, van links: Elizabeth Wagner, Spaas Gelant, Ellie Jansen en Elizabeth Thomas. Agter: Charmaine Titus (hoof van die tehuis) en lede van Blanco VLV, Marietjie Schaaff (voorsitter), Marie Joubert, Hannetjie Langenhoven, Alice Burts en Johanna Lamprecht.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’