GEORGE NUUS - Kleinsakeman Jeff Bennett, wat die mobiele motorwassery in die parkeergebied van die Garden Route Mall bedryf het, is hoogs ontevrede nadat hy kennis gekry het dat hy nie meer daar mag sake doen nie.
Dit volg nadat 'n nuwe motorwas-diens hierdie week sy deure langs Food Lovers Market geopen het.
"Die nuwe diens gaan honderde liters meer water gebruik as die wassers wat ek aangestel het wat emmers gebruik het; dit terwyl die dorp se waterbronne beperk is en strenger waterbeperkings ook nou ingestel is."
Bennett het gesê hy het vir baie mense werk gegee wat nou sonder 'n inkomste sit.
Die Garden Route Mall se bestuurder, Rion Olivier, het by navraag gesê, "Die uitgediende model wat Jeff gebruik het, het ook water gebruik en die nuwe wassery se water word hergebruik. Dit word deur twee tenks gefiltreer. Meer mense sal nou in diens wees.
"Ons het al in Junie vir Jeff-hulle gesê ons gaan hulle kennis gee. Kliënte wil nie meer hulle karre tussen die algemene besoekers of publiek laat was nie, en die besoekers kla hulle karre word gekrap. Nie al die wassers van die ou mobiele wassery het werkspermitte nie, nadat ons gevra het hulle moet daaraan voldoen."
Die nuwe wassery het voorheen by Eden Meander sake gedoen totdat daar weens uitbreidings nie meer spasie was nie.
Volgens Olivier gebruik die Garden Route Mall die tweede minste water onder alle streeksentrums nasionaal.
"Ons is dus die beste in die land vir ons grootte (54 000 m²). Ons ondersoek ook inisiatiewe om water op te vang van die dakke af en deur 'n boorgatpunt sodat die winkelsentrum vir vyf dae sonder munisipale water kan funksioneer."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'