Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Inwoners van Pacaltsdorp en lede van verskeie Khoisan-stamme in die Suid-Kaap is warm onder die kraag ná hulle nuus ontvang het dat 'n antieke begraafplaas in Pacaltsdorp moontlik ontwikkel gaan word.
Daar word beweer dat die grond gebruik gaan word vir 'n behuisingsontwikkeling van sowat 60 huise.
Volgens plaaslike aktivis, Blanché Benjamin, het die stuk veld oorkant die kerk in Missionstraat, bekend as Erf 157, nie net baie sentimentele waarde vir verskeie Pacaltsdorpers nie, maar ook 'n baie ryk geskiedenis.
Sy reken dit sal baie hartseer en nadelig vir die area wees indien die ontwikkeling sou voortgaan.
Die stamhoof van die Gourikwa Khoisan-stam van Groot-Brakrivier, Barry Jacobs, het ook sy misnoeë hieroor uitgespreek.
"Hierdie is bloedgrond, dit is heilige grond. Geen ontwikkeling sal hier plaasvind sonder die Khoi nie. Ons verwerp enige ontwikkeling op hierdie stuk grond. Dit is erfenisgrond," sê hy.
Kyk na die video waar Jacobs met George Herald gesels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'