GEORGE NUUS - Die Phambili-tehuis vir mishandelde vroue en hul kinders in Rosemoor kan net beskryf word as 'n plek waar hulle 'n goddelike diens lewer en so ook die George Lionsklub.
Pieter Nel van die George Lionsklub sê hulle lewer 'n diens waar dit nodig is, en hier het hulle 'n groot nood gesien. Nel sê hulle het eers met Maryda Squire, die bestuurder, gesels oor wat nodig is en toe besluit op 'n handsakprojek. "Ons het gevra dat handsakke geskenk word, en ons het dan die omgeepakkie in elke sak gesit."
Hy sê dit was egter net een gedeelte van die besoek Dinsdag aan die sentrum, hulle het ook al die rookalarms vervang. Hy is ondersteun deur Christo Theron van die Eden Lionsklub. Nel en Theron is ook albei betrokke by die Lions Alert-program.
As deel van die program help hulle in omstandighede waar 'n situasie as 'n ramp verklaar is. Hy sê hulle lede is altyd vrygewig met hul tyd, bereid en beskikbaar om 'n hand by te sit waar nodig.
"Ons hou van 'n persoonlike gesig tot gesig diens, eerder as wat ons net geld gee. Dis maklik om geld te gee, maar ons sal liewer ons tyd gee en deel van die projek wees."
Christo Theron van Eden Lions en Pieter Nel van George Lions Klub. Hulle het Phambili se rookalarms vervang. Foto: Brumilda Swartbooi
Squire sê Nel loer gereeld in, en die keer het sy hom meegedeel dat hulle toiletware nodig het. Sy sê daar is op die oomblik 13 vroue en 13 kinders. "Ons kan sowat 25 vroue inneem, maar omdat baie met hul kinders kom, wil ons nie graag enigiemand wegwys nie."
Sy sê toiletware mag na 'n alledaagse gerief klink, tot jy dit nie het nie, en dan is dit 'n probleem.
Volgens Squire is hulle dankbaar vir enige skenkings wat hulle kry, en nou met die winter wat voorlê het hulle veral onderklere en kouse nodig vir beide die mammas en die kinders.
Vir enige inligting of donasies aan Phambili, kontak die kantoor by 079 014 4657.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'