GEORGE NUUS - Slegs een van die twee broers wat aangekla word van die moord op Micaylin Whites (22) van Parkdene gaan volgende Maandag, 19 Augustus, aansoek doen om borgtog.
Lawrence Richards (43) en Elroy Uithaler (41) van Thembalethu het vanoggend weer vlugtig in 'n volgepakte George-hof verskyn waar Uithaler (41) aangedui het dat hy aansoek gaan doen.
Hulle staan tereg op aanklagte van moord en seksuele aanranding.
Richards (43) was uit op korrektiewe toesig ten tyde van die moord op Micaylin op 20 Julie. Hy is in Februarie vanjaar uit die tronk vrygelaat nadat hy tot drie jaar gevonnis is op aanklag van statutêre verkragting.
Micaylin se liggaam is met veelvuldige steekwonde langs die N2 naby Pacaltsdorp ontdek.
Sy was na bewering die vorige aand deel van 'n groep wat Richards se familie besoek het. Omstreeks middernag is hulle na bewering van Parkdene na Thembalethu en dit was die laaste keer dat sy lewend gesien is.
Talle familielede en vriende het weer vanoggend in getalle by die hof opgedaag en word 'n protesaksie vir volgende Maandag, 19 Augustus, by die George-hof beplan. Verskeie ondersteuners het ook die petisie, waarin gevra word dat die mans nie vrygelaat word nie, onderteken.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’