GEORGE NUUS - Op Dinsdagaand, 24 Junie, het dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, ’n groep sakelui in samewerking met die George-besigheidskamer in die George munisipale kantore toegespreek.
Hy het sy visie vir ekonomiese groei in die Wes-Kaap, met ’n spesifieke fokus op die Tuinroete, met passie gedeel.
Meyer het vier kern doelwitte uitgelig:
• Bevordering van landbou-ontwikkeling;
• Bou van sterk verhoudings met die sakegemeenskap;
• Verseker voedselsekuriteit; en
• Uitbreiding van marktoegang vir Wes-Kaapse produkte.
Met sy agtergrond as voormalige Wes-Kaapse minister van finansies beklemtoon hy die belangrikheid van finansieel volhoubare strategieë.
Sy passie vir die Tuinroete se potensiaal was duidelik, en hy het sy strategiese plan gedeel om ekonomiese groei van 3 tot 5% teen 2035 te bereik en minstens 200 000 nuwe werksgeleenthede in die provinsie te skep.
Uitdagings en geleenthede
Meyer het gewaarsku dat Amerikaanse tariewe op produkte en die onsekerheid oor die hernuwing van die African Growth and Opportunity Act (Agoa) beduidende risiko’s inhou.
Indien Agoa nie hernu word nie, kan dit lei tot meer as 148 000 werksverliese.
Ondanks hierdie uitdagings bly hy optimisties en het ’n konkrete plan om diplomatieke bande met Amerika te versterk. Hy het reeds geleenthede op internasionale forums geïdentifiseer, met 96% van Wes-Kaapse uitvoere na die Europese Unie tans vry van tariewe. Sy doel is om soortgelyke ooreenkomste met ander markte te sluit.
Infrastruktuur en mededingendheid
Om internasionaal mededingend te bly, is doeltreffende infrastruktuur noodsaaklik. Soos dit tans die plan is op nasionale vlak, is Meyer se visie ook om alle hawens vir maksimale effektiwiteit te privatiseer.
Die Wes-Kaap is reeds ’n topuitvoerder van vars produkte soos wyn en vrugte, en die Tuinroete kan volgens hom binnekort ’n nog groter bydrae lewer.
Samewerking met die sakesektor
Meyer het die behoefte aan ondersteuning van die sakesektor en nuwe beleggings in die provinsie beklemtoon.
Hy beplan ’n beleggerskonferensie binne die komende maande om plaaslike en internasionale besighede by die Wes-Kaap se ontwikkeling te betrek.
Boonop het hy ’n rompslompeenheid gestig om besigheidseienaars te help om burokratiese struikelblokke te oorkom, sodat sake-aktiwiteite vlotter kan verloop.
Afsluiting en reaksie
Meyer het sy voorlegging afgesluit deur te beklemtoon wat reeds in ’n kort tyd bereik is, en sy toewyding aan die implementering van sy strategieë. Na afloop van die toespraak het hy vrae uit die gehoor beantwoord.
Die sakelui het sy boodskap met groot entoesiasme ontvang en is opgewonde oor die reeds geïmplementeerde planne.
Hulle sien uit na vrugbare samewerking met Meyer en sy departement om die Tuinroete en die Wes-Kaap se ekonomie te laat groei.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’