GEORGE NUUS - 'n Bekende plaaseienaar (67) van Geelhoutboom wat van mensehandel en seksuele aanranding aangekla word, voer in 'n beëdigde verklaring aan dat meisies soms pornografiese foto's van hulself aan hom gestuur het om sy aandag te trek.
Hy staan glo sedert 2013 die gemeenskap van Blanco finansieel by. Sy selfoonnommer het vinnig onder die behoeftiges versprei en hy het daagliks tot 300 boodskappe ontvang, lui die verklaring wat Maandagoggend tydens sy borgtogaansoek in die hof uitgelees is.
Die borgtogaansoek van die beskuldigde, wat in Junie in hegtenis geneem is, is daarna vir 'n derde keer uitgestel nadat nodige dokumentasie nie die hoftolk betyds bereik het nie.
Landdros Phillip Mgwebile het die saak Maandag tot 17 Augustus uitgestel.
Die beskuldigde en 'n 37-jarige man is in Junie deur lede van die gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) in hegtenis geneem nadat 'n tienermeisie van Blanco 'n klag by die polisie ingedien het. Beide is steeds in aanhouding.
Die 67-jarige se beëdigde verklaring is Maandag uitgelees en op rekord plaas, maar 'n Afrikaanse beëdigde verklaring deur 'n karaktergetuie het die tolk eers Maandagoggend bereik. Die tolk het aangevoer dat hy 'n dag benodig om deur die dokument te werk en dit in Engels te vertaal.
Om moontlike tegniese foute te vermy wat die uitkoms van die saak in die toekoms kan belemmer, het landdros Mgwebile uitstel gegee.
Die plaaseienaar het aangedui dat hy onskuldig gaan pleit en bereid is om die meriete van die saak te bespreek. In sy verklaring sê hy dat hy op borgtog vrygelaat moet word omdat sy vrou en seun van hom afhanklik is.
Hy het ook werknemers en hulle gesinne op sy plaas vir wie hy finansieel verantwoordelik is.
Volgens hom is hy nie 'n vlugrisko nie en bly hy sy hele lewe lank in Suid-Afrika. Hy besit twee plase in die omgewing asook antieke items waaraan geen monetêre waarde geheg kan word nie.
Tydens sy arrestasie in Junie is die plaaseienaar se huis deur die polisie deursoek.
Hulle het onder andere op meer as 10 selfone beslag gelê.
Dié fone was glo nodig om inwoners van Blanco, sedert 2013, finansieel by te staan.
Sy selfoonnommer het vinnig onder die behoeftiges versprei.
Luidens die verklaring was van die boodskappe vir besigheid en ander van armoedige gemeenskapslede wat hulp benodig het. Baie van dié boodskappe was volgens hom ook Please Call Me's en soms het meisies pornografiese foto's gestuur. Die groot getal boodskappe het sy selfone se geheue volgemaak wat hom genoodsaak het om 'n nuwe foon aan te skaf.
Die beskuldigde voer aan die 15-jarige klaagster hom tussen 12 en 15 Junie via SMS gekontak. Sy het R3 800 nodig gehad. Hulle het mekaar op 22 Junie omstreeks 18:45 in Georgeweg, naby die verkeerslig in Blanco ontmoet, en hy het vir haar 'n paar honderd rand gegee met die belofte dat hy die balans die volgende dag by 'n plaaslike winkel sou inbetaal.
Volgens die beskuldigde was daar geen seksuele belangstelling van sy kant af nie en hy en die klaagster het nie meer as 10 minute saam deurgebring nie.
Hy sê in sy verklaring dat hy baie geskok was toe hy die 37-jarige verdagte se verklaring lees en bewus geword het van 'n sameswering tussen hom en die 15-jarige klaagster. Hulle wou hom glo afpers.
Lees vorige artikels:
• Plaaseienaar steeds in aanhouding
• Opvolg: Seksdade met meisie
• 2 Vas na seksdade met tienermeisie
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'