Meer as 400 voertuie is afgetrek en bykans 60 verkeersboetes is uitgereik in die padblokkade wat op die N2-snelweg naby Rademachers gehou is.
Adv. Lennit Max, die Wes-Kaapse mini-ster van gemeenskapsveiligheid, sê hulle wil dissipline weer terugbring na die paaie.
Hy het ook ‘n waarskuwing gerig aan die busoperateurs dat die veiligheid van passasiers eerste kom en dat dit nie onderhandelbaar is nie.
Max was voor sy besoek aan die padblokkade in gesprek met George-burgemeester, mnr. Flip de Swardt, munisipale amptenare van die direktoraat gemeenskapsveiligheid en seniors van provinsiale verkeer oor ‘n geïntegreerde 24-uur diens by die munisipale toetsstasie.
Mnr. Daniel Beeka, direkteur van gemeenskapsveiligheid, sê 15 voertuie, waarvan die meeste swaar motorvoertuie was, is van die pad afgehaal weens onpadwaardigheid.
‘n Gesoekte persoon en ‘n vrou wat die dwelm Cat in haar besit gehad het, was onder die 11 persone wat in hegtenis geneem is. Die ander persone is op uitstaande lasbriewe in hegtenis geneem.
‘n Onderwyser van Rondevlei Primêr naby Sedgefield is beboet omdat die skool
se Toyota Venture sowat 20 skoolkinders na George vervoer het. Sommige het op mekaar se skote gesit, ander het onder die sitplekke gelê, in die kattebak gesit en twee kleintjies is voor in die Venture, half onder die paneelbord gekry.
‘n Landdros van George is beboet omdat hy met ‘n onwettige (te klein) nommerplaat aan sy luukse silwer Alfa-motor gery het. Dít nogal nadat hy vroeër die dag verkeersoortredings by die Plettenbergbaai-landdroshof aangehoor het.
Artikel en foto's: Lizette da Silva
.jpg)
Verskeie eenhede van die polisie was betrokke by die padblokkade, selfs die honde-eenheid. Die passasiers van die voertuig staan en kyk hoe die snuffelhond die motor deursoek. Niks is in die motor gevind nie.
.jpg)
Dié motor wou nie aanskakel nadat dit afgetrek is nie, en die passasiers moes dit met behulp van ‘n polisiebeampte aan die brand stoot.